Local newsNews

Hoop vir Thabazimbi se haweloses

Wanneer ’n mens in Van der Bijlstraat, Thabazimbi, ry, is dit maklik om verby die ou geboue en huise te ry sonder om werklik daarop ag te slaan.

Maar dit is ook in ons dorp ’n hartseer werklikheid dat mense sonder inkomste is en baie kry swaar.

Thabazimbi Homeless Shelter (THS) het onlangs begin met planne om die mees weerlose inwoners van die dorp te help deur die ou Iscor-woonstelle in ’n veilige hawe vir die haweloos en hulpbehoewendes te omskep.

 

Die gebou in Van der Bijlstraat, Thabazimbi waar ‘n hawe vir mense sonder heenkome geskep word.

 

“Mense sien nie meer nood raak nie,” het Beverley Spira Kühn die afgelope week aan Die Pos gesê.

“Dit is so maklik om verby ander se pyn en nood te kyk, maar as ’n mens vir ’n oomblik vergeet van jou vooropgestelde idees, besef jy vinnig wat jy kan doen om ander te help.”

Die projek het in November 2020 begin toe THS die eerste skenking ontvang het, naamlik ’n 20 liter blik verf. Die projek het sedertdien van krag tot krag gegaan en die gebou is bykans gereed om binnekort ’n vesting te word vir dié onder ons wat dit broodnodig het.

Die gebou en erf, wat in 1960 gebou is as huisvesting vir die destydse vakleerlinge op die myn, is die afgelope paar maande deur die THS-span opgeknap en hulle beoog om teen begin Maart gereed te wees om die eerste inwoners te verwelkom.

Kühn vertel hoewel die getalle nie 100% akkuraat is nie, dat daar tans meer as 40 hawelose mense (waaronder kinders) in Thabazimbi woon. Hul het geen inkomste of heenkome nie. Kos is skaars en hoop vir die toekoms selfs nog minder.

“Om mense te help beteken nie om vir hulle ’n paar rand in die hand te stop nie,” maan Kühn.

“’n Mens moet ’n daadwerklike poging aanwend om die mense se omstandighede te verander.”

Wanneer die THS met mense werk is dit vir hulle uiters belangrik om ’n permanente impak op die mense se lewens te maak en om dít reg te kry, sê Kühn, moet dié mense weer leer om verantwoordelikheid te neem vir hul eie lewens.

Die Engelse spreekwoord lui: Give a man a fish then he has a fish. Teach a man to fish and he can provide for himself.

Dit is presies wat THS se doel met die projek is.

“Ons gee nie net vir haweloses ’n plek om te plak nie,” verduidelik Kühn. “Ons het stelsels en reëls wat die hawelose mense help om hulself uit hul omstandighede te kry.”

THS het hande gevat met verskeie sakeondernemings en boere in die omgewing om deur middel van ’n sterk struktuur en orde weer self op die been te kom.

“As iemand hier by ons aanklop vir hulp, is dit nie net vir ’n plek om te slaap nie. Ons het hulp gekry van mense uit die gemeenskap om te help om die mense op te hef. Die skuiling is nie net ’n blyplek nie, maar ’n baken van hoop.”

“As die mense hier by ons aankom is die eerste vereiste dat hulle ’n dwelmtoets ondergaan wat hulle uit die aard van die saak moet slaag voor hulle toegang tot die skuiling kan verkry. Ons vra daarna ook dat die mense begin werk of werk soek,” het Kühn verduidelik.

“Hier is baie boere wat ons goedgesind is en bereid is om vir die mense wat hier aankom werk te gee vir ’n dag of twee. Op dié manier kom hulle in roetine en skerp hulle weer die nodige vaardighede op om hulle in staat te stel om vir ander poste aansoek te doen.”

Weens Covid-19- regulasies sal die skuiling aan die begin slegs op 50% kapasiteit kan funksioneer maar THS se doelwit is om uiteindelik tot 40 mense per aand te help met ’n dak oor die kop en kos om te eet.

Laat weet asseblief indien u kan help met die volgende items:

• Werkgeleenthede
• Ongeveer 60 m palissade-omheining
• Veiligheidshekke
• Vier blikke 5 l emaljeverf (bevestig asseblief die kleur)
• 20 liter Armatex-verf (kleur Ash 1)
• Handdoeke (alle grotes)
• Mansklere
• Hangers
• Gordyn wegbinders (12)
• Enkelbeddens (20)
• Toesluitkassies (11)
• Dubbelwasbak met krane
• Bolaaier-wasmasjien
• Yskas en kisvrieskas
• Mikrogolfoond
• Ketel
• Bababedjies (camping cots)

Kontantbydraes is altyd welkom.

Vir meer inligting oor THS en hoe om ’n bydra te lewer, bel vir Beverley Spira Kühn by tel. 078 403 1813.

Related Articles

Back to top button