Local newsNews

Nog ’n tree nader na botaniese tuin

Die moontlikheid dat ’n botaniese tuin in Bela-Bela gevestig word lyk al hoe meer belowend.

Dié idee is in September 2020 ter tafel gelê en het oorweldigende ondersteuning uit die gemeenskap ontvang.

Meer as 3 000 inwoners het ’n petisie onderteken dat só ’n tuin gevestig moet word. ’n Bestuurskomitee is gestig om die bal aan die rol te kry en die konsep van die beoogde ontwikkeling is reeds in die hande van Michael Makhubela, munisipale bestuurder, vir oorweging.

Die voordele wat so ’n tuin vir die dorp kan bied, sluit in toerisme, ’n verhoging in eiendomswaardes, ’n ontspanningsgerief vir inwoners, natuurbewaring en dat dit ’n plek kan wees waarheen skoolgroepe kurrikulumverwante uitstappies onderneem.

Die betrokke stuk grond behoort aan die Bela-Bela-munisipaliteit en is op die Alma-pad (gedeelte 25) geleë. Dit is skuins oorkant Laerskool Warmbad se sportgronde en strek tot teenaan die waterreservoirs en die Renaissance-aftreeoord se grens. ’n Ander stuk grond, wat ook geskik is vir die vestiging van ’n botaniese tuin, is op dieselfde pad, maar net verder uit die dorp en grens aan die Marulani-natuurreservaat.

Johan Mills, wat aan die voorpunt van sake staan, het by navraag aan Die Pos gesê rolspelers het die afgelope week ’n besoek van Christopher Willis, hoofdirekteur van die Suid-Afrikaanse Botaniese Instituut (SANBI), en Elliot Mashile, SANBI-direkteur, ontvang.

Die mans het albei stukke grond besoek en laat blyk dat die munisipale grond (gedeelte 25) die beter opsie vir die potensiële projek is, het Mills gesê.

“Willis en Mashile het gesê hulle is veral opgewonde oor die moontlikheid dat plante wat slegs in die Waterberg voorkom, bewaar, gekweek en in die botaniese tuin self hervestig kan word.”

’n Opvolgvergadering met rolspelers word beplan en alle rolspelers sal ingelig word oor aanbevelings en die stand van sake.

Mills het voorts gesê hoewel die SANBI-verteenwoordigers aangedui het dat hul fondse gebrekkig is, ondersteun hulle die projek en is gewillig om aan toekomstige gesprekke oor die stiging van die tuin deel te neem.

Konsultasies vir die uitleg van die botaniese tuin sal steeds plaasvind en ’n formele voorlegging sal daarna aan die munisipaliteit oorhandig word, het Mills gesê.

Related Articles

Back to top button