Local newsNews

Kom skeer en kleur jou hare ten bate van Kansa

Vrolike kleure sal eersdaags oral in die Waterberg-omgewing te sien wees wanneer verteenwoordigers van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se Waterberg-tak by verskeie inkopiesentrums doenig sal wees.

Die geld wat ingesamel word, is ten bate van die behandeling en navorsing om kanker te beveg.

Ansie van Heerden, Kansa-projekkoördineerder, het gesê die beroemde Kansa Shavathon skop op Saterdag 27 Februarie in Modimolle en Bela-Bela af.

Belangstellendes kan by die vriendelike Kansa-verteenwoordigers by die Bosveld Mall, Bela Mall, Modimall en die Sparrow-inkopiesentrum aandoen, ’n donasie maak en vir die pret selfs hul hare laat kleur of skeer.

Van Heerden het verder gesê die organiseerders het reeds met eienaars van salonne in gesprek getree om tot einde Maart ook aan dié fondsinsameling deel te neem.

Kliënte kan deur hul naaste deelnemende salon op hul rekening ’n bedrag byvoeg — klein of groot — en op hierdie manier tot dié verdienstelike saak bydra.

Kansa sal vanaf Vrydag 20 Maart plekke in Vaalwater besoek. Die Shavathon sal daagliks van 08:30 tot 14:00 plaasvind.

Die koste vir ’n haarkleur- en skeer beloop R50 vir volwassenes en R25 vir kinders. Die nodige Covid-19-maatreëls sal by elke stalletjie gevolg word.

Vir navrae kan mense vir Van Heerden bel by tel. 076 409 4444, of stuur vir haar e-pos na avheerden@cansa.org.za(.)

Related Articles

Back to top button