Local newsNews

Gemeente verwelkom nuwe leraar en gesin

Die Bron AGS-gemeente in Mookgophong het op 1 Desember 2020 hul nuwe leraar en sy gesin by die gemeente verwelkom.

Past. Quintin Kellerman, sy vrou, Amoré, en hul vier spruite is reeds ingeburger in die gemeente en voel baie tuis in dié Bosvelddorp.

“Die Bron-gemeente het my in Desember 2020 beroep en ons het ’n duidelike woord by die Here gekry dat ons hier moet wees,” het Quintin aan Die Pos gesê.

Die Kellerman-gesin is baie opgewonde en glo dat hulle in Mookgophong is om ’n verskil te maak in God se koninkryk en om mense vir Jesus te wen.

“Ons wil beslis deel wees van gemeenskapsprojekte.”

Die gesin het die afgelope sewe jaar in Kimberley in die Noord-Kaap gewoon waar hy mede-leraar van ’n groot gemeente was. Die egpaar was die afgelope twee jaar ook by die onderrig van studente by die kerk se Engelse kampus in Kimberley betrokke.

Quintin het in 1997 by Hoërskool Nelspruit gematrikuleer en daarna ’n honneursgraad in Teologie aan die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag bekend as die Universiteit van Johannesburg) verwerf. In dié tyd het hy deeltyds by Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp skoolgehou en was hy ook die jeug pastoor by AGS-Vitaliteit in Krugersdorp. Hy is later na ’n gemeente in Middelburg in Mpumalanga beroep as jeugpastoor. Dit was daar dat hy sy vrou, Amoré, ontmoet het en drie van hul kinders is daar gebore. Jannecke is tans 12, Zoené 11 en Jonathan 9. Die egpaar se jongste spruit, Q-Jay, is in Kimberley gebore.

“Ons was sewe jaar lank in Middelburg. Ek was twee jaar lank daar betrokke by die Puma Cravenweek-rugbyspan as mentor van die span. Ek was ook sewe jaar lank by Hoërskool Middelburg se eersterugbyspanafrigting betrokke,” het Quintin met groot geesdrif vertel.

Die Kellerman-gesin hou van musiek maak en Amoré het ’n besondere musiektalent. Sy is onder meer by die gemeente se lofprysingmusiek betrokke en is ook die gemeente se skriba.

Quintin het groot planne vir die dorp en wil betrokke raak by die skole en veral met die seuns ’n geestelike pad loop.

“Ons glo die dorp moet ’n beter plek wees omdat hier ’n aktiewe gemeente is en daarom wil ons weekliks ’n projek loods,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button