Local newsNews

Loer in by Stadspoort se mark

Lede van die liefdadigheidsorganisasie Stadspoort in Bela-Bela is reeds hard aan die werk om toe te sien dat daar vanjaar na minderbevoorregte gesinne omgesien word.

Stadspoort sorg tans vir 50 gesinne in die omgewing wat gereeld kospakkies ontvang.

Margaretha Alberts, Stadspoort-lid, het by navraag gesê ’n mark sal eersdaags in die dorp aangebied word om Stadspoort se geldkoffer aan te vul sodat hulle die liefdadigheidswerk kan voortsit.

Mense uit die gemeenskap skenk items aan Stadspoort wat dan teen bekostigbare pryse aan die gemeenskap verkoop word en met dié geld kan Stadspoort weer produkte vir kospakkies koop.

Sy sê daar is baie klere vir mans, vroue, kinders en babas beskikbaar, asook kombuisware, boeke, linne en huishoudelike toestelle.

Stadspoort het ook ’n snuffeltafel waar inwoners na hartelus kan krap vir ’n winskoop.

Die markdag vind van Donderdag tot Saterdag (25-27) Februarie in Lunaweg 33 plaas (op die perseel waaruit die vorige balju-kantoor sake gedoen het).

Die mark is op weeksdae van 16:00 tot 18:00 oop en die Saterdag vanaf 08:00 tot 14:00.

“Elke vertrek hou belofte in van ’n unieke vonds en inwoners moet gerus kom kyk,” het Alberts gesê.

Vir navrae en bykomende skenkings kan mense vir Ansu Strydom bel by tel. 082 876 3698 of vir Christa Marx by tel. 061 512 4502.

Related Articles

Back to top button