Local newsNews

Inwoners van Immergroen draf lewe se uitdagings kaf

Dit is Februarie — die maand van die liefde.

In Thabazimbi, soos regoor die land, het ouers en leerders vandeesweek geskarrel om alles betyds gereed te kry vir die afskop van die nuwe skooljaar.

Sakeondernemings swoeg en sweet steeds om kop bo water te hou weens die Covid-19-pandemie se inperkings en die lewe gaan onverpoosd voort.

Die Pos het ’n draai gaan maak by die Immergroen Ouetehuis en kers opgesteek by ’n groep vroue om te leer oor die lewe, die liefde en hoe om die lewe se terugslae te trotseer. En as daar nou een ding is wat ’n mens by dié groep vroue kan leer, is dit om immergroen deur die seisoene van die lewe te gaan.

“Hoe ouer ’n mens word, hoe makliker aanvaar ’n mens teëspoed en die terugslae van die lewe,” vertel Martie Erasmus terwyl sy en haar vriendinne in die tehuis se eetsaal sit en kuier.

Hulle lag onophoudelik en daar is nie ’n stil oomblik nie en as ’n mens fyn luister, kan jy nie anders as om inspirasie te kry van dié voorslagvroue nie.

Die mat is verlede jaar onder almal se voete uitgeruk toe die wêreldwye pandemie Suid-Afrika getref het en almal (oud en jonk) gekonfronteer is met hul eie verganklikheid.

“Hierdie siekte is ’n heel nuwe krisis, maar dit is juis klippe kou wat ’n mens sterker maak,” het Hannetjie Minnaar gesê.

Maar hoe gaan ’n mens aan met jou lewe ná ’n krisis? Hoe bly jy gelukkig en tevrede ten spyte van die feit dat jy vasgekluister is in jou huis?

Vir Hazel Lusse is die antwoord eenvoudig: “Jy moet lag.”

Die inwoners van Immergroen hou hulself besig met breiwerk en alledaagse takies, maar dit is opvallend hoe die groep vroue nog lag en die lewe geniet.

“Ons lees baie en ons gaan aan met ons dag se dinge, maar ons terg mekaar baie en bemoedig mekaar. Daar is elke dag iets lekkers,” voeg Lusse later by.

Inwoners deel graag hul stories, maar hulle luister ook graag.

“Mense moet mekaar ondersteun,” maan Ester Sutherland, “want as dinge skeefloop is ons vriende en familie al wat ons oorhet”.

Die geheim van ’n gelukkige lewe is eenvoudig: “Ons almal het stories om te vertel en as ons in mekaar se stories deel, sal die lewe lekker bly,” kry Martie Erasmus die laaste woord in.

Almal is welkom by Immergroen Ouetehuis en dié inwoners staan duidelik gereed om enigeen met oop arms en warm harte te ontvang.

Related Articles

Back to top button