Local newsNews

Asemrowend, majestueus, voëlvry!

In antieke tye het die Griekse filosoof Plutarch aasvoëls beskryf as die regverdigste voëls op aarde.

Aasvoëls is al vir jare sinoniem met Thabazimbi en dié majestueuse voëls word in die omgewing gerehabiliteer, geteel en beskerm.

Vandag kan dié omgewing spog met van die grootste aasvoëlkolonies in Suid-Afrika. Daar word tans ongeveer 800 broeipare in die Thabazimbi-omgewing gehuisves. Dít is egter nie wêreldwyd die geval nie.

 

Die groot oomblik het aangebreek toe twee van die bedreigde kransaasvoëls waarvan daar slegs 9 000 in die land voorkom, op Sondag 14 Februarie in die Plumari-natuurreservaat naby Magaliesburg vrygelaat is.

 

Wat eens gesien is as ’n onooglike aasdier, is vandag ’n hoogsbedreigde spesie waarvan die mensdom se voortbestaan afhang. Wat jare gelede nog ’n “lelike eendjie” vir die man op straat was, is vandag ’n voëlspesie waarsonder ons nie kan bestaan nie.

Die International Union for Conservation of Nature (IUCN) is 1964 gestig om bewusmaking en beskerming van bedreigde spesies te bevorder. Dié organisasie plaas veral klem op die diere op hul sogenaamde “rooilys” wat in vandag se tye ongelukkig ook die aasvoël insluit.

’n Groep weldoeners het op Valentynsdag Sondag 14 Februarie hande gevat met die nie-winsgewende organisasie Vulpro om 11 gerehabiliteerde aasvoëls by die Plumari-natuurreservaat in Magaliesburg vry te laat. Die Pos is genooi om dié avontuur mee te maak.

“Aasvoëls is die belangrikste diere op aarde,” het Kerri Wolter, uitvoerende hoof van Vulpro, dié Sondag se gesprek begin. “Ons staan vandag hier om vir dié voëls hul vlerke terug te gee wanneer ons hulle vrylaat ná hul rehabilitasie.”

Vulpro en die vrywilligers wat die organisasie help, is daagliks besig om te veg teen die uitwissing van Suid-Afrika en die wêreld se aasvoëls.

“Ons onderneem so drie keer per jaar teel- opnames in die Thabazimbi-omgewing en ons hoop is om ander kolonies ook só sterk te kry soos dié in Limpopo,” het Wolter gesê.

Vir die besoekers en vrywilligers was die ervaring niks minder as asemrowend en ’n mens kon nie anders as om verdwaas te staan oor die grootsheid van die ervaring nie.

“Aasvoëls is vir ons pragtige, fassinerende voëls. Net hul grootte en sagmoedigheid is ontsagwekkend. Die reusevoëls het ’n baie belangrike funksie op aarde. Dit is aasvoëls wat sorg dat mens en dier op aarde gesond bly. Hulle is die natuur se “skoonmaakpersoneel” met kragtige spysverteringstelsels wat bakterieë en virusse wat cholera, lamsiekte, hondsdolheid, miltsiekte, polio, tuberkulose, melaatsheid en ander siektes ver- oorsaak, neutraliseer,” vertel Mariza Hamman, een van die Vulpro-vrywilligers.

“Dit is ons plig om hulle te red van uitwissing.”

  • Skandeer die foto in die gedrukte uitgawe van Die Pos met jou slimfoon om die video te sien. Maak seker jy laai die PixzAR-toep af

Related Articles

Back to top button