Local newsNews

Hospitale onder water ná reën

Deurdringende reën wat dae lank geval het in die nadraai van die tropiese storm Eloise het nie net verligting gebring oor damvlakke wat gestyg het nie, maar ook groot skade aan infrastruktuur in Limpopo berokken.

Minstens drie hospitale in Limpopo het onder vloedwater deurgeloop, naamlik die Botlokwa-hospitaal in Polokwane, die WF Knobel-hospitaal in die Capricorn-distrik en die Warmbad-hospitaal in Bela-Bela.

Dr. Phophi Ramathuba, provinsiale LUR van gesondheid, het onlangs bekend gemaak dat die ingange na dié hospitale oorspoel is en toegang vir voetgangers én motorryers belemmer word.

Vloedwater het by die Warmbad-hospitaal tot binne-in die kraamafdeling, asook die X-straalafdeling, gevloei en dienste ontwrig.

By die WF Knobel-hospitaal was dele van die kombuis onder water. Bhuti Moagi, Warmbad-hospitaal se hoof- uitvoerende beampte, het aan Die Pos gesê dit blyk dat die stormwaterdreineringstelsel by die ingang van die hospitaal verstop is wat veroorsaak het dat die water opdam en die hospitaal binnegevloei het.

“Ons het vinnig opgetree en pasiënte wat in die afdelings was wat deur die vloedwater beïnvloed is, na ander sale verskuif. ’n Kontrakteur is tans besig om ’n bestekopname te doen en ’n moontlike oplossing vir die probleem te kry,” het hy gesê.

“Ons dienste gaan normaalweg voort, maar die instandhouding van stormwater is die munisipaliteit se verantwoordelikheid en moet dringend aandag geniet.”

Risham Maharaj, die DA se provinsiale woordvoerder van gesondheid, het in reaksie gesê dié party is bekommerd dat die departement van gesondheid se vermoë om die Covid-19-pandemie te stuit, negatief beïnvloed word deur die hospitale se infrastruktuur wat deur vloedwater beskadig word.

“Die weerverskynsel het die departement se tekortkominge op die voorgrond geplaas. Munisipaliteite hou nie stormwaterdreineringstelsels in stand nie en weens die gebrekkige geldsake van hospitale word onderhoudswerk aan geboue tot ’n minimum beperk.”

Hy het voorts gesê die DA het reeds in Augustus 2020 die probleme by Knobel- en Botlokwa-hospitale aangemeld, maar daar is geen ag geslaan op die pleidooie nie.

“Daar is reeds ’n tekort aan hospitaalbeddens en hulpbronne in die provinsie. Dit is dus onduidelik of geld beskikbaar sal wees om die skade te herstel. Die bykomende uitgawes kan ’n negatiewe uitwerking hê op die behandeling van Covid-19-pasiënte.”

Related Articles

Back to top button