Local newsNews

Covid-19 eis oud- Thabazimbi-inwoner

’n Boorling van Thabazimbi wat in 1990 aan Hoërskool Frikkie Meyer gematrikuleer het, is op Vrydag 22 Januarie oorlede nadat hy Covid-19 opgedoen het.

Michael Morrison (48) is op Saterdag 9 Januarie in die Linmed-hospitaal in Benoni opgeneem nadat hy siek geword en positief vir Covid-19 getoets het, het ’n familielid aan Die Pos gesê.

Hy is die volgende dag na die Pretoria-Oos hospitaal oorgeplaas waar hy aan ’n ventilator gekoppel is. Hy is op Vrydag 22 Januarie oorlede nadat hy ’n hartstilstand ervaar het.

 

Michael Morrison (48), bekende oud-inwoner van Thabazimbi, is in ’n Pretoriase hospiaal oorlede nadat hy siek geword en met Covid-19 gediagnoseer is.

 

Michael het as 8-jarige seun saam met sy ouers, Mike en Mara Morrison, vanaf Welkom na Thabazimbi verhuis. Hy het sy laer- en hoërskoolloopbaan in Thabazimbi voltooi.

Hy was lid van die kadetblaasorkes en was ’n meester op die trompet. Sy ma, Mara Morrison, het aan Die Pos gesê hy was by allerlei skoolaktiwiteite betrokke. Hy het ná skool sy vakleerlingskap as elektrisiën by Kumba-kragsentrale voltooi.

Hy is in 2002 met Sonja getroud en twee seuns, Aiden (13) en Liam (16), is uit die huwelik gebore.

Hy het groot opgang gemaak in sy werk en was ten tyde van sy dood die operasionele bestuurder van Coca-Cola se Midrand-tak.

’n Gedenkdiens is op Vrydag 5 Februarie vanuit die NG Kerk Delmas-Wes-gemeente gehou.

Hy laat sy gesin, Sonja en die seuns, dogter Johandri Thomas, sy ouers Mike en Mara Morrison van Thabazimbi agter.

Related Articles

Back to top button