Local newsNews

Boervrou kry hoogste prys vir top skaap-ooi op veiling

Daleen Brooks van Mookgophong is ’n boervrou in murg en been en het ’n passie vir skaapboerdery.

Sy het onlangs haar staal gewys toe haar Bosvelder-skaapooi die hoogste prys op die jaarlikse Bosvelder Elite-skaapveiling op Saterdag 6 Februarie in Bela-Bela behaal het.

Die vroulike dier van Brooks van Haakdoringkuil Bosvelders was die duurste ooi met lam en is deur Matlala Properties van Pretoria teen ’n bedrag van R12 500 gekoop.

“Sy is ongeveer twee jaar oud en het ’n tweeling in 2020 gehad. Die dragtigheidstoets voor die veiling het getoon dat sy weer dragtig is met ’n tweeling. Sy is baie vrugbaar,” het Brooks opgewonde aan Die Pos vertel.

Brooks het tien jaar gelede saam met haar pa, dr. Piet Prinsloo, met dié opkomende skaapras op hul plaas in die omgewing begin boer.

Sy het gesê daar is tans 600 teelooie in die kudde. Brooks het gesê sy verkies om met skape te boer, want hulle is vir haar as vrou meer hanteerbaar.

Sy is egter steeds saam met haar pa by die Nguni-beesboerdery betrokke. Hulle het ’n voerkraal op die plaas gebou wat hulle nou wil uitbrei.

Volgens Stefan Greyling, afslaer van Vleissentraal, het sowat 60 kopers opgedaag en geregistreer vir die veiling. Hul het ook groot belangstelling gehad van kopers wat aanlyn geregistreer het.

Vleissentraal Bosveld het die veiling namens die Bosvelder-studiegroep aangebied en streng Covid-19-maatreëls is gevolg. Baie streng biosekuriteitmaatreëls is ook gevolg. Ondanks uitdagings soos dié wat deur die Covid-19-pandemie en swaar reënval teweeg gebring is, was die aanbod van diere van hoogstaande gehalte en 14 verskillende verkopers het die studiegroep verteenwoordig.

Daar is nie minder nie as 19 Bosvelder-ramme verkoop teen ’n gemiddelde prys van R9 875 elk. Die duurste ram “Bidcoin” van Theo Hoffman van Groblersdal is vir R19 000 verkoop aan Francois Grundling van Koster. Daar is 116 ooie op die veiling verkoop. Die duurste dragtige ooi is vir R10 000 verkoop deur Rudette Nel Bosvelders van Rooibokkraal in die Bela-Bela-omgewing. Die 54 jong ooilammers is verkoop teen ’n gemiddelde prys van R3 660 elk.

Verkopers het van sover as die Oos-Kaap gekom vir die veiling. Die Bosvelder-skaapras is uit die Pedi- en dorper rasse geteël en is baie gehard. Dié skaapras kom nou wyd in Suid-Afrika voor waar boere groot sukses behaal met die diere.

Vir navrae oor die Bosvelder-skape of die Bosvelder-studiegroep bel vir Theo Hoffman (voorsitter) by tel. 084 313 7356.

Related Articles

Back to top button