Local newsNews

Boekwurms kan weer breed glimlag

Boeklesers in Mookgophong het weer rede om te glimlag.

Nie net is die ligte in die dorpsbiblioteek vervang en herstel nie, maar daar is ook weer lugversorging in die gebou wat in die warm somermaande ondraaglik warm geword het.

Sakelui van die dorp Mokone du Preez, Christo Oosthuizen en die sakeonderneming Baboos het ’n groot bydrae gemaak om die toerusting in die biblioteek te diens en herstel.

Karen Briel van wyk 5 se wykskomitee het die projek aangepak en borge bekom sodat die biblioteek weer diensbaar kan word vir die gemeenskap.

“Mag julle weer vreugde put uit ons biblioteek,” het burgemeester Marlene van Staden van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in reaksie gesê.

Frida Papo, bibliotekaris, het aan Die Pos gesê sy is baie dankbaar vir die verbeteringe, maar wag nog vir die munisipaliteit om die toiletgeriewe te herstel.

Sy het in 2016 by die biblioteek begin werk nadat sy haar BA graad in biblioteekkunde aan die Turfloop-universiteit verwerf het. Sy sê Estelle Owen, ’n inwoner van die dorp, was haar mentor en sy het baie by haar geleer.

“Die ouer inwoners gebruik die biblioteek baie. Hulle verkies om boeke wat in ’n groter lettertipe gedruk word, uit te neem. Die jongmense en skoolleerders gebruik die internet vir hul navorsing vir skooltake en studies,” het Papo gesê.

Sy het gesê inwoners slaan graag na oor die geskiedenis en kultuuraktiwiteite van die dorp. Papo sê die nuus van nuwe boeke versprei gewoonlik soos ’n veldbrand.

Almal is opgewonde om te sien watter nuwe leesstof op die rakke is. Sy sê volgens die bestaande rekords is daar inwoners wat al vir meer as 20 jaar van die biblioteek se dienste gebruik maak.

Die publiek word gereeld deur die verspreiding van pamflette bewus gemaak van die opvoedingswaarde wat die biblioteek vir die gemeenskap inhou.

Sy sou graag wou sien dat die toiletgeriewe opgegradeer word en vir die uitsluitlike gebruik van die biblioteekgebruikers is.

Die gerief is tans vir die publiek oop en dit word nie in stand gehou nie. Die biblioteek is op weeksdae van 09:00 tot 15:45 oop.

Related Articles

Back to top button