Local newsNews

Optiese vesel vir Mookgophong

Inwoners van Mookgophong was die afgelope week aan die gis oor die gekleurde merkers wat met verf op die sypaadjies voor hulle huise gemaak is.

Die raaisel is gou opgeklaar toe dit aan die lig gekom het dat die lê van optiese veselkabels ook nou vir dié dorp ’n werklikheid word. Volgens wyksraadslid Hercules Louw is die munisipaliteit deur Vumatel genader om die optiese veselkabels in die dorp aan te lê.

Vumatel het die nodige toestemming verkry en daar is 80 plaaslike werkers in diens geneem om te help met die werk.

Die werkers is volgens ’n kwotastelsel van mans en vroue aangestel uit die databasis van werklose inwoners wat deur die munisipaliteit bygehou word.

“Die projek is goedgekeur op voorwaarde dat daar werk geskep word vir plaaslike werkloses van wyke 5, 14, 9 en 10,” het Louw gesê.

Die gebruik van optiese veselkabels sal internetspoed verbeter.

Dit sal ook die bestaande koperkabels vervang wat gereeld gesteel word en internetdienslewering beïnvloed.

Veatel, ’n ander kontrakteursmaatskappy, het op Maandag 25 Januarie begin om die optiese veselkabels tot by elke huis en sakeonderneming in die dorp te lê.

Volgens Leon Jordaan, kontrakteur van Mosselbaai, behoort die werk binne die volgende twee maande afgehandel te wees.

Die eerste “blok” is byna voltooi. Alle plekke waar daar in die teer gesny is, sal weer met warm teer gevul word. Hy het inwoners ook die versekering gegee dat die afwerking netjies sal wees.

Die vesel word tot teen die erwe gelê en dan sal eienaars die keuse hê om dit aan te lê tot in hul huise.

Louw en Jordaan het ooreengekom dat die werkers terselfdertyd ook slaggate in die dorp kosteloos sal herstel. Optiese vesel word wêreldwyd in die telekommunikasie-industrie gebruik.

Related Articles

Back to top button