Local newsNews

Nóg ’n verdrinking in dorpsdam

Nóg iemand het ten aanskoue van lede van die gemeenskap in die Modimolle-dorpsdam verdrink.

Dit is die derde keer die afgelope twee jaar dat iemand in dié dam verdrink.

Die Modimolle-polisiestasie het op Saterdag 30 Januarie ’n oproep ontvang dat ’n man in die dorpsdam opgemerk is.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het die man reeds onder die water verdwyn toe die polisie op die toneel aangekom het.

Toeskouers het by die Modi-Mall-winkelsentrum saamgedrom om die reddingspoging te aanskou. Hoewel ooggetuies nie met duidelikheid kon sê waarom die man langs die dam was nie, is daar bespiegel dat hy moontlik wou visvang.

“Daar was op daardie stadium ’n polisiebeampte van die Polokwane-soek-en-reddingspan in die omgewing op besoek. Hoewel die polisiebeampte van diens af was, het hy dadelik hulp aangebied en kon hy, in samewerking met die plaaslike polisie, help om die man se liggaam uit die dam te haal,” het Findlay gesê.

Die oorledene, ’n 46-jarige inwoner van Modimolle, se naam kan eers bekend gemaak word sodra sy naasbestaandes in kennis gestel is.

“Die verdrinking word deur die polisie ondersoek, het Findlay gesê.

Die Pos het op 4 Desember 2020 berig oor ’n soortegelyke verdrinking wat op Woensdag 25 November in die dorpsdam plaasgevind het.

’n Man het ook in Julie 2018 in die dam verdrink nadat hy ten aanskoue van inwoners sy klere uitgetrek en in die dam gespring het.

Die polisie versoek lede van die publiek om nie in die dorpsdam te swem of vis te vang nie.

Die swaar reën wat die afgelope weke geval het, het die dam se watervlak aansienlik laat styg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button