Local newsNews

Kind (4) sterf in fratsongeluk

’n Tragedie het op Maandag 25 Januarie in die Kromdraai-omgewing buite Bela-Bela afgespeel toe ’n kleuter in ’n fratsongeluk doodgeskok is.

Die vierjarige Willem du Toit het aan ’n elektriese heining geraak waarna hy erge asemnood ervaar het.

Charmaine Smit, ondervoorsitter van die Kromdraai-gemeenskapspolisiëring forum (GPF), het aan Die Pos gesê hulle het om 17:30 ’n noodoproep oor die voorval ontvang.

Hulle het die nooddienste ontbied en self ook na die kleinhoewe gehaas om hulp te verleen. Noodbehandeling is op klein Willem toegepas, maar sy lewe kon nie gered word nie, het Smit gesê.

 

Klein Willem du Toit (4) van Kromdraai buite Bela-Bela is dood nadat hy in ’n fratsongeluk doodgeskok is.

 

Willem was die jongste van Thinus en Alicia du Toit se vier kinders. Hy was volgens sy ouers “’n bondel vreugde en liefde”.

“Hy het in almal se harte gekruip met sy lawwe woorde en sêgoed. Hy was ondeund en het altyd met almal ’n grappie gemaak. Hy was baie rats en het nie ’n bang haar op sy kop gehad nie. Hy het soms raas gekry oor sy onverskrokke speletjies, maar het gou die kwaai woorde omgedraai in ’n glimlag. Ons sal hom altyd onthou as grapperige klein Willem wat vir almal vreugde gebring het.”

Thinus het aan Die Pos gesê Willem het baie graag saam met hom aan motorvoertuie gewerk en het fluks gereedskap aangedra. Hy het daarvan gehou om items uitmekaar te haal, maar saans as hy in die huis was, het hy sy ma se nabyheid opgesoek.

“Sy plekkie in die huis is leeg, maar sy herinneringe sal vir ewig in ons harte voortleef. Ons sal hom weer in die tuin van die hemel ontmoet.”

Hy laat sy ouers en drie boeties, Zander, Marnus en Tiaan, agter.

“Ons sê dankie aan die liewe Here vir die vier jaar wat Hy Willem aan ons toevertrou het. Ons het nooit geweet dat Hy hom so gou weer sou kom haal nie. Mag sy siel in vrede rus.”

‘n Nadoodse ondersoek word tans deur die Rooiberg-polisie gedoen.

Die gesin bedank die GPF-lede vir hul hulp tydens die tragedie en ook hul bystand daarna. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor die Rooiberg-polisie, Bafa-begrafnisdienste en elke nooddienswerker wat die gesin met deernis en empatie behandel het.

Smit het aan Die Pos gesê die Du Toit-gesin se inkomste het drasties verminder weens die Covid-19-pandemie. Sy het ’n fondsinsameling begin om die begrafniskoste te help delg.

Die Kromdraai-GPF-lede het hul ook verbind tot die fondsinsameling. Lesers wat wil bydra, is welkom om vir Smit te bel by tel. 079 757 5992 vir besonderhede.

  • Die Pos het einde verlede jaar berig oor die fratsongeluk waarin Carel van Heerden, ’n geliefde jong onderwyser van Bela-Bela, ook doodgeskok is toe hy aan ’n elektriese hek by sy ouerhuis buite die dorp geraak het. Van Heerden se verloofde was by toe die ongeluk gebeur het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button