Local newsNews

Groot verligting vir ouers met volwasse gestremde kinders

Dit is ’n droom wat bewaarheid is, het Hantie van Aardt tydens die opening van die nuwe Sonstraal Tehuis op Maandag 1 Februarie in Modimolle gesê.

Die Pos het met Van Aardt, hoof van die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys, gesels.

“Ons is lankal reeds bewus van die behoefte aan voltydse versorging van volwassenes met fisieke en verstandelike gestremdhede. Hierdie tehuis bied nou ’n veilige omgewing vir inwoners ouer as 18 jaar.”

Dieselfde perseel in Magazynstraat, wat die afgelope sewe jaar gebruik is as werksentrum vir fisiek en verstandelik gestremde leerders van alle ouderdomme, het nou sy deure vir voltydse inwoners geopen.

Die werksentrum is in die verlede tussen 08:00 en 13:00 bedryf. Hierdie sentrum is vanjaar ingerig as ’n voltydse tehuis met drie dubbel kamers wat altesame ses inwoners kan huisves.

“Ons verkies dat inwoners van dieselfde geslag kamers deel en dat die huis soos ’n familieopset voel. Vir sommige inwoners is dit die eerste keer dat hulle weg van hul gesinne of familie woon,” het Van Aardt gesê.

Die tehuis het ’n gesellige TV-kamer en eetkamer met ’n goedtoegeruste kombuis, terwyl die boomryke tuin en stoep ’n heerlike omgewing bied waar inwoners kan ontspan. Daar is tans drie voltydse inwoners, asook een inwoner wat slegs bedags versorg word.

Naas du Preez, voorsitter van die beheerliggaam, het tydens die openingsgeleentheid uitgebrei oor die ontstaan en groei van die Sonstraalskool.

“Die skool is in September 1996 deur Santa Lourens, predikantsvrou van die Evangelies Gereformeerde Kerk (EGK) van Modimolle in die kerksaal begin. Die skool het vinnig uitgebrei en ’n gebou met vyf klaskamers is in November 2002 opgerig op die EGK se perseel in Hans Campherrylaan. ’n Aparte werksentrum is in 2007 gebou wat tot in 2013 in gebruik was en daarna geskuif het na die huis in Magazynstraat. Dit is daar waar die nuwe tehuis nou ingerig is.”

Van Aardt het gesê daar word daagliks verskeie werkwinkels aangebied wat die inwoners en dagbesoekers stimuleer. Ons het ’n daaglikse oefenprogram, asook weeklikse swem- en perdryaktiwiteite.”

Die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys, asook Sonstraal Tehuis, is privaat instellings wat deur dieselfde beheerliggaam bestuur word.

Die skool ontvang geen regeringshulp nie en is geregistreer as ’n nie-winsgewende organisasie wat art. 18A-sertifikate aan donateurs kan voorsien.

Geld vir die skool word gegenereer deur verskeie fondsinsamelingsprojekte, donasies en skoolfonds wat deur die ouers betaal word.

Mense wat graag wil betrokke raak, kan gerus die skool se webwerf besoek by www.sonstralers.wixsite.com of direk vir Van Aardt bel by tel. 083 612 0975.

Related Articles

Back to top button