Local newsNews

Geliefde De Wet-egpaar verruil Bela-Bela vir die mooie Wes-Kaap

Die Bela-Bela-gemeenskap neem met swaar harte afskeid van Wim en Sandra de Wet wat die Sonskyndorp vandeesmaand vir die Wes-Kaap verruil.

Wim was sedert 2008 oordbestuurder van die ATKV Klein-Kariba vakansieoord buite Bela-Bela en Sandra was sedert 2009 ’n onderwysadviseur by Limpopo se departement van onderwys.

Sy het skole in die Waterberg-distrik bygestaan. Wim het aan Die Pos gesê hy was skaars ’n maand lank oordbestuurder toe die oord se restaurant afgebrand het.

“Dit was nogal ’n warm ontvangs,” spot hy tong in die kies.

Die multimiljoenrand herbouprojek was vir hom ’n groot uitdaging, min wetend dat ’n nóg groter uitdaging op hom gewag het. Bela-Bela het in 2014 landwyd die nuus gehaal toe ’n damwal gebreek en groot dele van die township, industriële gebied en middedorp oorstroom het.

Die Klein-Kariba-oord was reg in die “oog van die storm”.

“Die skade was astronomies en die oord moes bykans heeltemal herbou word, maar die grootste verlies was die feit dat twee mense tydens die vloed op die oord dood is.”

Die oord het in die 12 jaar onder Wim se bekwame bestuur verskeie uitbreidings ondergaan waarvan die nuwe Vishoek-eenhede (pragtige selfsorgeenhede vir vier, ses of agt mense) veral baie gewild by besoekers is.

“Die bekwame en toegewyde personeel het my taak ligter gemaak. Van ons personeel het hul só onderskei dat hulle bevordering gekry en as oordbestuurders elders in die land aangestel is. Ons personeelkorps is soos ’n hegte familie. Ons lojale besoekers het by herhaling teruggekeer en ons het deur die jare hegte vriendskapsbande gesmee. Dit is ’n kleinood wat ek met my saamneem,” het hy gesê.

Vir Sandra was die hoogtepunt om die afgelope 11 jaar by spesiale skole en sentrums vir kinders met gestremdhede te werk.

Elke leerder se vordering, hoe gering ook al, was ’n persoonlike mylpaal. Sy het ook talle ouers en onderwysers in hoofstroomonderwys bygestaan met die uitdagings vir kinders met leerprobleme. Onderwyskenners is dit eens dat sy kan terugkyk op 40 suksesvolle jare in die onderwys.

“My loopbaan het vir my vervulling gegee en dit was ’n voorreg om aan leerders met leerprobleme ondersteuning te bied en werkswyses aan te leer wat hul struikelblokke kon verminder. Die toegewyde personeel in die Waterberg-distrik het my taak vergemaklik,” het sy gesê.

“Ons wou aanvanklik in Modimolle aftree en het ’n aftreehuis daar gebou, maar die hunkering na ’n huisie by die see was altyd daar. Ek is ’n boorling van die Oos-Kaap en ons gereelde besoeke aan die Suid-Kaap het die deurslag gegee. Ons het besluit om in die pragtige Groot Brakrivier-omgewing af te tree. Ons kinders en kleinkinders woon in Gauteng en ons weet hulle sal sommer baie vir ons by die see kom kuier,” het Sandra gesê.

“Uiteraard sien ons dit nie as aftrede nie, maar as die tweede helfte van ons lewens wat voorlê. Ons glo ons sal gelei word om ook daar ons roeping verder te vervul.”

Die egpaar sê die Covid-19-pandemie en 2020 se streng inperkingstyd was ’n groot toets om te sien of hulle hul besige loopbane sal kan afskaal en heeltyd net in mekaar se geselskap kan wees.

“Dit was vir ons ’n bevestiging dat ons huwelik van bykans 40 jaar op ’n goeie fondasie gebou is en beslis die toets van aftrede sal kan deurstaan.”

Die Covid-19-pandemie het ook vir Klein-Kariba ’n knou gegee. Die bestuur moes noodgedwonge personeel verminder en ’n nuwe sakemodel en bestuursplan het groot veranderinge teweeg gebring.

Die lojaliteit van hul personeel was vir hulle ’n riem onder die hart, want hoewel salarisse verminder is, het hulle steeds met toewyding en ywer hul werk gedoen.

Volgens Wim is die personeel van dié oord hul grootste bate en sal hulle in die toekoms weer ongekende groei toon.

“Ons is dankbaar dat ons vir meer as 12 jaar deel van die gemeenskap kon wees, dat ons aanvaar is soos ons is en dat ons op ons beskeie manier ’n bydra kon lewer. Ons glo dit is genade dat ons ons beroepslewens op ’n hoogtepunt kan afsluit.”

Related Articles

Back to top button