Local newsNews

Frikkie Geyser-dam loop oor

Dit is nie net die boere van die Springbokvlakte en die Waterberg wat gejuig het oor die welkome reën nie; inwoners van Mookgophong is verheug dat die Frikkie Geyser-dam, wat die dorp van water voorsien, weer vol is en op Vrydag 29 Januarie begin oorloop het.

Volgens Ben Steyn van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, is dit die eerste keer in ongeveer vier jaar dat die dam oorloop. Die dam was wel in 2020 bykans 100% vol, maar het nie die wal oorstroom nie.

Boere in die omgewing het berig dat daar die afgelope week op sommige plekke meer as 200 mm reën uitgesak het. Gronddamme op plase is ook vol en die veld staan plek-plek vol water.

 

By Bokpoort in die Waterberg kan gesien word waar dié bergreeks sy naam vandaan kry. Water stroom oral uit die rotswande ná die afgelope week se goeie reënval.

 

Marlene van Staden, burgemeester van Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het aan Die Pos gesê die welkome reën en die daaropvolgende vloei na die Frikkie Geyser-dam, bring groot verligting vir die dorp se waterkrisis. Die dam se oorloop vloei in die Sterkrivier wat weer sy pad vind na die Doringdraai-dam wat Mokopane van water voorsien.

Oral in die berge by Bokpoort, op die pad tussen Mookgophong en Marken, is daar watervalletjies te sien.

Baie gesinne het die afgelope naweek in die omgewing rondgery en die Bosveld se natuurskoon bewonder.

“Dit is mos waar die Waterberg sy naam gekry het. Die Voortrekkers het die strome water teen die rotswande gesien en daarna na die omgewing as die Waterberg verwys,” het Philip van Staden, ’n inwoner, gesê.

Pompe van die dam moes in November 2020 afgeskakel word. Volgens kenners was dit die eerste keer in 32 jaar dat die dam só leeg was. Die dorp het toe op boorgate staatgemaak vir watervoorsiening. Dit het aan die plaaslike munisipaliteit en die inwoners hoofbrekens besorg.

Die sakekamer, onder leiding van Mokone du Preez, het toe ’n grootskeepse “skoonmaakproses” van die dam onderneem. Die gemeenskap het ingespring en R150 000 ingesamel sodat riete, modder en slik verwyder kon word.

Die Frikkie Geyser-dam is 15 km noordwes van die dorp geleë en is in 1955 in die Sterkrivier-opvangsgebied voltooi. Die dam beslaan 26 ha. Die dam het aanvanklik jaarliks sowat 720 000mᶟ water gelewer en die damwal is in 1982 met 0,9 m verhoog wat die kapasiteit verhoog het na 915 000mᶟ per jaar.

Met die skoonmaak in 2020 is dit met ’n verdere 16 miljoen liter verhoog.

Related Articles

Back to top button