Local newsNews

Reservaat spog met gesogte toekenning

Die Shambala-privaat wildreservaat in die Vaalwater-omgewing spog met ’n wêreldklas toekenning.

Die reservaat is tydens die gesogte World Travel-toekennings (WTA) as 2020 se voorste privaat natuurreservaat aangewys.

Die reservaat het reeds in 2013 vir die eerste keer dié gesogte toekenning ontvang en die toekenning daarna vir agt opeenvolgende jare verower.

Die Pos het met Johan Jay-Vos, mediaskakelbeampte, gesels om uit te vind wat Shambala-wildreservaat so uitsonderlik maak.

Die woord “Shambala” beteken paradys/hemel op aarde in Tibetaans en as ’n mens na die foto’s op die webwerf kyk, is dit voorwaar die geval. By Shambala word alles volgens die kliënt se behoeftes bestuur wat vir gaste die vryheid gee om hul eie dagroetines te bepaal.

Shambala beslaan ongeveer 10 000 ha met agt luukse chalets en een villa met ses slaapkamers. Daar is opgeleide wildbewaarders en goedtoegeruste wildbesigtigingsvoertuie sodat gaste die spore van die Groot Vyf kan volg.

Gaste kan nader kennis maak met krokodille en seekoeie wanneer hulle per boot op die Douw Steyn-dam vaar. Wanneer gaste voel dat die aktiwiteite te veeleisend is, kan hulle agteroor sit en gepamperlang word in die luukse Shambala-spa.

Shambala bied ook hulp aan die Vaalwater-gemeenskap in samewerking met die EMS Foundation (’n liefdadigheidsorganisasie wat deur die Steyn-familie tot stand gebring is) wat gereeld kospakkies aan kwesbare gemeenskappe versprei.

Hulle is ook deel van ’n voedselsekerheidsprogram. Shambala het ’n noue verbintenis en ’n ryk geskiedenis met oudpres. Nelson Mandela (Madiba), een van Suid-Afrika se grootste ikone.

Die Mandela-villa is spesiaal vir Madiba gebou en was eksklusief vir sy gebruik. Ná sy dood in Desember 2013 het die bestuur dit goed gedink om ook vir gaste die voorreg te gee om in dié besondere villa tyd deur te bring. Dit is baie gewild, want toeriste wil graag in dié ikoon se spore loop.

  • Suid-Afrika spog met nog vier ander wêreldklastoekennings by die 2020 World Travel-toekennings. Silvan Safari Lodge in Sabi Sands is aangewys as die beste luukse lodge, Villa iZulu by Thanda Safari in Kwa-Zulu Natal is die beste luukse villa, die Saxon Hotel se villas en spa in Johannesburg is die beste boetiekhotel en Kaapstad is aangewys as die beste plek om ’n feestelike geleentheid aan te bied.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button