Local newsNews

Minister besoek Modimolle se MDR-hospitaal

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en dr. Phophi Ramathuba, Limpopo se LUR vir gesondheid, het die MDR-hospitaal in Modimolle op Woensdag 20 Januarie besoek.

Die besoek was deel van ’n amptelike veldtog onder leiding van Ramathuba wat verskeie hospitale in Limpopo besoek het om die hantering van die toename in Covid-19-gevalle te moniteer.

Die groep afgevaardigdes het dieselfde dag ook besoek afgelê in Mokopane en Thohoyandou in Limpopo. Volgens ’n woordvoerder van die departement van gesondheid was die minister tevrede met die toestande by die MDR- en Mokopane-hospitale.

Die minister het tydens sy besoek die verpleegpersoneel bedank vir hul deurlopende sorg en toewyding.

“Die MDR-hospitaal het tans ses pasiënte in die Covid-19-eenheid,” het Abel Makhubele, uitvoerende bestuurder van die hospitaal, aan Die Pos gesê.

Hy het bevestig dat daar 89 beddens beskikbaar is vir Covid-19-pasiënte waarvan 22 beddens toegerus is met hoëvloei-suurstof en vyf met ventilators.

“Die TB-eenheid beskik oor 62 beddens waarvan 52 beddens, indien nodig, gebruik kan word vir Covid-19-pasiënte. Daar is tans drie pasiënte in dié afdeling,” het hy aan Die Pos gesê.

Die MDR-hospitaal was uitsluitlik ingerig vir die behandeling van middelweerstandige tuberkulosepasiënte, maar die hospitaal is verlede jaar opgegradeer en amptelik op 23 Julie 2020 as Covid-19-eenheid vir hoë- en kritiekesorgpasiënte geopen.

Die Pos het breedvoerig oor die opgradering berig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button