Local newsNews

Merkwaardige Gladys sterf

Gladys van der Merwe (91), merkwaardige en geliefde vrou van Bela-Bela, is op Maandag 11 Januarie by die Warmbad Rusoord Tehuis vir Bejaardes oorlede.

Sy was vir drie en ’n half jaar ’n inwoner van Rusoord. Sy het op verskeie geleenthede aan Die Pos gesê hoewel sy reeds ver gevorderd in jare is, is sy steeds geseën met goeie gesondheid.

Die presiese oorsaak van haar dood is nie bekendgemaak nie.

Van der Merwe was die vrou van wyle Roelof van der Merwe, bekend as oom Van, wat in 1992 dood is. Hy was die destydse hoof van die paaie-afdeling van die Warmbad-munisipaliteit.

Hulle is in 1965 getroud en het saam sy vyf kinders uit ’n vorige huwelik grootgemaak.

Sy was ’n geliefde ouma en grootouma. Inwoners, haar familie en vriende sal haar onthou as ’n vrou wat altyd deur ’n ring getrek kon word.

Sy het vir haar ’n klein paradys in haar rondawelhuis in De Beerstraat geskep en almal is altyd hartlik daar ontvang.

Volgens ’n vriendin was sy iemand wat haar Christenskap uitgeleef het. Sy was onwrikbaar in haar beginsels. Haar bure, vriende en familie kan getuig van haar liefdevolle geaardheid wat haar baie gewild gemaak het.

Die familie rig ’n spesiale bedanking aan die personeel van Rusoord wat haar met deernis en liefde versorg het.

Haar begrafnis het op Vrydag 15 Januarie vanuit die Lifestyle Ministries-kerk in die dorp plaasgevind.

Die diens is waargeneem deur past. Peet Horn. Van der Merwe laat haar kinders, 12 kleinkinders en 19 agterkleinkinders na.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button