Local newsNews

Geboueienaars moet let op hul bouplanne

Nuwe wetgewing dwing mense in die eiendomsbedryf om opnuut seker te maak dat hulle oor al die nodige dokumente beskik.

“Die wet vereis nou dat munisipale bouplanne saam met grondgebruikskemaregistrasies (SPLUMA) van ’n eiendom by die aktekantoor ingedien moet word voordat ’n eiendom aan nuwe eienaars oorgedra kan word,” het Annelie Botha, prinsipaal van Aïda-eiendomme in Bela-Bela, aan Die Pos verduidelik.

Die SPLUMA-beleid vereis dat grondeienaars die volgende moet kan toon:

  • Bewyse dat die plaaslike munisipaliteit die korrekte en opgedateerde bouplanne van ’n eiendom het en dat alle uitstaande munisipale koste (dienste en belastings) betaal is;
  • dat die eiendom korrek gesoneer is en dat die boustrukture (of verbeterings) nie inbreuk maak op ander eiendomme nie. Die betrokke munisipaliteit behoort in kennis gestel te word van enige aanpassings wat op ’n eiendom aangebring word en elke grondontwikkeling moet hul goedkeuring in terme van wetgewing dra. Indien bouplanne nie bestaan nie, of die perseel se uitleg nie ooreenstem met die oorspronklike bouplan nie, kan die transak- sie vertraag word, het Botha gesê. Dit het ook al gebeur dat eise nie uitbetaal het nie omdat bestaande bouplanne nie aan die korrekte vereistes voldoen het nie, het sy gesê.

“Die banke vra deesdae of daar bouplanne bestaan wanneer mense vir finansiering aansoek doen. As die planne nie beskikbaar is nie, moet eienaars op eie koste ’n argitek of plantekenaar aanstel om nuwe planne op te trek.”

’n Bouinspekteur van die munisipaliteit behoort elke eiendom te besoek nadat ’n argitek of plantekenaar planne opgetrek het en die perseel se uitleg moet met die planne vergelyk word voordat ’n bousertifikaat uitgereik kan word, het Botha gesê. Volgens inligting van Smith, Tabata, Buchanan en Boyes-prokureursfirma (STBB) kan ’n eiendomstransaksie wel plaasvind indien bouplanne nie bestaan nie, mits die volgende gebeur:

  • Die eiendom in die mark geplaas word terwyl die bouplanne in die proses is om goedgekeur te word.
  • Die eienaar moet die koper in kennis stel dat die planne nog in die proses is om goedgekeur te word voordat oordrag kan geskied.
  • In die geval waar bouplanne glad nie bestaan nie, kan die koper die verkoper daarvan in kennis stel en die verkoper aanspreeklikheid aanvaar vir risiko’s na afloop van die transaksie. STBB raai veral laasgenoemde aan wanneer kopers verbeterings wil aanbring wat die optrek van nuwe planne vereis. Die koper kan ook in sulke gevalle self aanspreeklikheid aanvaar. Dit kan egter vir die verkoper nadelig wees indien hy of sy nie die risikopunte op die eiendom ten volle aan die koper verklaar nie want dan kan ’n skade-eis voortspruit of die transaksie kan nietig verklaar word.

Bela-Bela-inwoners kan navrae aan die munisipaliteit rig in verband met bouplanne wat geliasseer is.

Die munisipaliteit kan ook in kennis gestel word van enige verbeterings op ’n eiendom.

Navrae kan gerig word aan Peter Makgamatha by tel. 082 510 9604 of Rebecca Baji by tel. 082 510 9157.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button