Local newsNews

Die Pos sprei sy vlerke Thabazimbi toe

Die Pos het — soos bykans alle klein sakeondernemings op die platteland — behoorlik gesteier onder verlede jaar se streng Covid-19-maatreëls en die gepaardgaande ekonomiese impak wat dit op ons, ons lesers en adverteerders gehad het.

Die koerant was nog al die jare ’n barometer van hoe dit met ons sakelui gaan — as dit goed gaan met die ander sakeondernemings, gaan dit goed met die koerant.

As die sakelui swaarkry, gaan dit swaar by Die Pos. En verlede jaar het dit swáár gegaan.

Sakeondernemings het hul deure permanent gesluit, beperkings op byvoorbeeld alkoholverkope knou nog steeds van ons grootste adverteerders en verskeie van ons adverteerders het aan Covid-19 gesterf.

Negatiewe persepsies van “die media”, asook die opskiet van koop-en-verkoopgroepies op WhatsApp en Facebook, het die koerant ’n verdere gevoelige slag toegedien. ’n Tendens het wêreldwyd ontstaan dat mense eerder “vinnige, gratis fopnuus” lees, as om langer te wag vir eerlike, gebalanseerder beriggewing in ’n gedrukte produk.

Duisende joernaliste het wêreldwyd hul werk verloor en koerante wat al dekades bestaan, moes hul deure toemaak.

Hier by Die Pos het ons deur diep waters gegaan, maar so aan die begin van die jaar kan ons vrymoedig sê: Ons het oorleef. En ons groei sowaar!

Die rede daarvoor is eenvoudig: Mense is moeg vir onbetroubare bronne wat fopnuus versprei, hulle wil gebalanseerde, objektiewe beriggewing oor hul gemeenskappe lees en ondersteun ’n koerant wat ook terugploeg in sy eie gemeenskap.

Dit is dus met groot dankbaarheid dat Die Pos kan sê dat ons nie net die eerste jaar van die pandemie oorleef het nie, maar ook kan uitbrei.

Ons open op Maandag 1 Februarie ’n volwaardige tak in Thabazimbi met ’n voltydse verslaggewer en bemarker in dié dorp wat sal sorg dat Thabazimbi se mense ook gedien en bedien word en weekliks die beste gemeenskapskoerant in die land op hul rakke kry. Dit beteken dat Die Pos nou bykans die hele Waterberg (met die uitsondering van Lephalale en Mokopane) bedien.

FC Pelser het ’n graad in kreatiewe skryfwerk (Unisa) en het reeds vir verskeie publikasies gewerk. Die man kán skryf en hy is vasbeslote om Thabazimbi spreekwoordelik op die kaart te plaas.

Die Pos het hom met die hand gaan uitsoek en van Centurion af Thabazimbi toe gelok. Die Pos word ook vanaf 1 Maart nie meer gratis in Thabazimbi versprei nie, maar — net soos in die ander dorpe — teen R8 verkoop.

Verkoopte koerante het ’n baie akkurater syfer wat hulle aan adverteerders kan toon as koerante wat gratis versprei word. Ons ondervinding is dat koerante wat gratis versprei word, dikwels in honde- en voëlhokke eindig of vir ander doeleindes in pakke gesteel word of dikwels net in bondels bly lê en nie by die lesers uitkom nie, terwyl verkoopte koerante eerstens geléés word en daarna vir ander huishoudelike gebruike aangewend word.

Die Pos sal voorlopig net by drie plekke in Thabazimbi beskikbaar wees naamlik Spar, Pick n Pay en Foodzone. Ander sakeondernemings wat graag Die Pos op hul rakke wil verkoop, kan vir Anneline du Preez soggens skakel by tel. (014) 736 2723.

Twee ander groot veranderings wat Die Pos einde verlede jaar aangebring het, is ons nuwe besprekingstelsel vir advertensies wat nou in lyn is met hoe al die koerante in die Caxton-stal dit landwyd doen.

Ons maak gebruik van die Colorado-stelsel wat spesiaal ontwerp is vir koerante. Dit maak dit baie makliker vir kliënte om kwotasies te kry en byvoorbeeld dieselfde advertensie wat, sê maar in die Middelburg Observer, verskyn presies net so in Die Pos te laat plaas.

Die stelsel maak dit maklik om foute soos dubbelbesprekings op te spoor en sentraliseer die rekeningstelsel van meer as 50 Caxton-streekskoerante landwyd. Daar was hier en daar groeipyne met die uitstuur van rekenings wat van ’n sentrale punt in Gauteng gedoen word, maar dit is intussen opgeklaar.

Die Pos se kleinadvertensieblad (Smalls) het ook einde verlede jaar ’n nuwe baadjie aangetrek en oplettende lesers sou gesien het dat die uitleg heelwat “netjieser” vertoon. Daar is ook baie meer kleur op dié bladsye.

Adverteerders wat kleinadvertensies van 20 woorde of minder plaas betaal nog steeds — soos die afgelope meer as twee dekades — slegs R40 per plasing. Daarna betaal adverteerders R10 per reël — soos wat die gebruik by alle ander koerante en tydskrifte landwyd is.

Die Pos het nie verlede jaar soos gebruiklik ons advertensietariewe in April verhoog nie omdat ons besef het dat ons adverteerders onder erge finansiële druk verkeer het. Ons het die tariewe wel in Oktober met tussen 4-6% aangepas en beoog om dit vanjaar ook eers weer in Oktober te doen.

Intussen wens ons vir FC sterkte toe met die Thabazimbi-uitbreiding. Mag die inwoners van Thabazimbi hul harte vir jou oopmaak — en jy vir hulle.

Lesers kan FC bel met nuuswenke en adverteerders kan ook van hulle laat hoor. Bel hom by tel. 071 422 1278 of stuur vir hom e-pos na thabapos@gmail.com(.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button