Local newsNews

Aasvoëls se voortbestaan belangrik

Talle diere en voëlspesies staar uitwissing in die gesig weens die mens se onoordeelkundige vernietiging van hul natuurlike habitat.

Aasvoëls, wat ernstig bedreig word, voorkom die oordrag van virusse en bakterieë in die natuur omdat hul verteringstelsels die natuurlike virusse en bakterieë in besmette karkasse kan vernietig voordat dit verder versprei.

Volgens inligting van die Aasvoëlbewaringsprogram (Vulpro), wat sedert 2007 in Hartbeespoort bestaan, is daar ongeveer 4 200 tot 4 500 aasvoëlbroeipare in die land waarvan daar in Limpopo alleen 2 000 tot 2 200 broeipare is.

Vulpro is die breinkind van die natuurkenner Kerri Wolter. Die grootste bedreiging vir aasvoëls is vergiftiging, oorhoofse kragdrade wat hul doodskok of hul vlerke beskadig, die stel van strikke om hulle te vang vir tradisionele medisyne (muti), verdrinking en die gebrek aan natuurlike voedselbronne.

Aasvoëls geniet beskerming ingevolge die omgewingsbestuurswet en enigiemand wat hierdie voëls moedswillig doodmaak, kan swaar boetes of selfs tronkstraf opgelê word. Indien hierdie voëls minder word of uitgeroei word kan daar gevalle van cholera, lamsiekte, hondsdolheid, miltsiekte, polio, tuberkulose en melaatsheid in streke uitbreek, waarsku Vulpro.

“Aasvoëls is pragtige, fassinerende voëls. Hul grootte en sagmoedigheid is ontsagwekkend. In ons gebied is die kransaasvoëls die algemeenste, maar ons sien ook witrugaasvoëls en swartaasvoëls. Dit is ons plig om te help om hulle te red,” het Mariza Hamman, Vulpro-vrywilliger van Bela-Bela aan Die Pos gesê.

Vulpro rehabiliteer sedert 2007 beseerde aasvoëls en laat hulle weer vry om hul natuurlike rol te vervul. Die rehabilitasieprogram het tot dusver 901 aasvoëls gered waarvan 397 reeds vrygelaat is. Vulpro moniteer die spesie veral in Noord-Wes, Limpopo en die Oos-Kaap.

Hulle het ook in 2011 ’n broeiprogram begin en aasvoëls wat weens erge beserings nie vrygelaat kan word nie, word by dié program geplaas.

“Ons het die afgelope jaar ’n hele paar aasvoëls in die Waterberg-omgewing gered. Daar is egter ook vrektes weens vergiftiging en kragdrade by ons aangemeld,” het Hamman gesê.

Volgens Vulpro is die drie grootste kransaasvoëlkolonies in Limpopo by Blouberg, Manutsa en die Marakele Nasionale Park.

“Die publiek kan betrokke raak deur skenkings te maak en as vrywilliger aan te sluit. Vrywilligers sal opleiding ontvang sodat hulle voëls kan hanteer sonder om die voëls te beseer of om self beseer te word.”

Talle grondeienaars het al kennis gemaak met Vulpro-verteenwoordigers en het ingestem dat die spesie beskerm moet word.

Natuurliefhebbers wat op aasvoëls in nood afkom, word aangeraai om Vulpro te kontak by tel. 082 808 5113 of stuur e-pos na info@vulpro.com(.)


Kyk ook na die video op PixzAR deur die foto in die gedrukte uitgawe van Die Pos te skandeer met jou slimfoon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button