Local newsNews

Gee my tog net krag!

Sakeondernemings in Rupertstraat, Modimolle, was op Donderdag 14 Januarie vir amper agt ure sonder krag toe Herotel se werkers glo ’n kragkabel in Rupertstraat beskadig het.

Dié onderrneming is tans besig om optiese veselkabels in Modimolle te lê.

Die Pos het met verskeie eienaars en bestuurders van sakeondernemings gesels wat deur die kragonderbreking geraak is.

Vir Heleen Swart, eienaar van die Lekkerbly Chalet-gastehuis in Rupertstraat, was dit ’n groot verleentheid om aan gaste te verduidelik dat daar vir soveel ure nie krag is nie.

“Die krag was reeds voor 12:00 af en ná talle oproepe na munisipale beamptes, het ons verneem die probleem is opgespoor en dit sal etlike ure neem om reg te stel. Ons het intussen maar alternatiewe planne gemaak, want ons 10 gaste moes aandete kry.”

Die kragtoevoer is volgens haar eers teen omstreeks 19:45 herstel. Volgens Swart ondervind hulle herhaalde kragonderbrekings weens ’n fout by die elektriese kragkas op die hoek van Kerk- en Vosstraat in Modimolle.

“Met die geringste teken van donderweer en reën, gaan die krag af. Hierdie probleem is al verskeie kere met die betrokke owerhede bespreek, maar die probleem word nie opgelos nie,” het sy gesê.

Joos Engelbrecht, wat ’n werktuigkundige werkwinkel in Rupertstraat bedryf, het gesê sy onderneming staan stil sonder elektrisiteit. Dit veroorsaak dat hulle baie oortyd moet werk om kliënte gelukkig te hou. Oortydwerk het egter weer bykomende kosteimplikasies wat hy as sake-eienaar moet dra.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, is daar ’n kliëntedienssentrum wat 24/7 beskikbaar is vir navrae of die aanmeld van enige elektrisiteitsprobleme.

Inwoners kan gerus WhatsApp-boodskappe oor elektrisiteitsprobleme stuur na tel. 067 354 4281 of die kliëntedienssentrum skakel by tel. (014) 050 0261.

Related Articles

Back to top button