Local newsNews

Bekende veespekulant sterf aan Covid-19

Henrique Jose Felix (68), ’n veteraanveeboer en –spekulant van Bela-Bela, is op Saterdag 16 Januarie in ’n Pretoriase hospitaal dood ná ’n wekelange stryd teen die Covid-19-virus.

Volgens ingeligte bronne is Felix bykans ’n maand gelede in die intensiewe sorgeenheid van die Montana-hospitaal in Pretoria opgeneem waar hy vir longprobleme — brongitis en toe longontsteking — behandel is.

Hy is ook met Covid-19 gediagnoseer. Paul van Vuuren, direkteur van André Kock en Seun-afslaers in Bela-Bela, en sy personeellede wat dekades lank met Felix sake gedoen het, onthou hom as ’n vriendelike mens met ’n goeie hart.

Van Vuuren het aan Die Pos gesê hul verhouding was ’n gesonde kombinasie van vriendskap en besigheid.

Hulle het baie transaksies beklink en mekaar goed geken.

Felix het as sjef in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag gewerk en later deeltyds met vee begin spekuleer wat tot ’n voltydse beroep uitgebou is.

Hy het in die Roodekuil-omgewing buite Bela-Bela gewoon en met beeste geboer. Hy het verskeie stukke grond in die omgewing gekoop en gehuur om as weiding te gebruik. Hy het ook ’n suksesvolle algemene handelswarewinkel bedryf en later Tip Top-slaghuis in Bela-Bela begin. Hy het die slaghuis later verkoop om meer aandag aan sy boerdery te gee.

Sy eerste vrou, Maria, en seun, Walter, is sowat 20 jaar gelede albei op slag dood toe die voertuig waarin hulle gereis het by die Radium-spooroorgang met ’n trein gebots het.

Felix was verpletter deur Maria en Walter se dood, maar het later weer liefde gevind toe hy met sy tweede vrou, Rose, getroud is, het Van Vuuren gesê.

’n Roudiens word vir Felix by die Portugese Katolieke Kerk in Pretoria beplan, maar die dag en datum was teen druktyd nie bekend nie.

Felix laat sy vrou, ’n dogter, twee aangetroude seuns en twee kleinkinders agter.

Related Articles

Back to top button