Local newsNews

Siekte eis een van Thabazimbi se bekende sakemanne

Riaan Vorster (60), ’n boorling van Thabazimbi wat hom in die regte bekwaam en sy plek as sakeman in Thabazimbi volgestaan het, is op Sondag 13 Desember dood nadat hy lank bedlêend was.

Vorster is in Desember 2009 met ’n breingewas gediagnoseer.

Die gewas is tydens ’n operasie verwyder en hy het daarna bestraling ontvang. ’n Tweede gewas is gedurende 2020 ontdek en sy gesondheid is erg gekniehalter en sy loop- en spraakvermoë is aangetas.

Hy is op Donderdag 10 Desember 2020 in die Mediclinic in Thabazimbi opgeneem nadat hy slukprobleme begin ervaar het en is op Sondag 13 Desember daar oorlede.

Vorster was ’n regsgeleerde en is in 1988 as advokaat toegelaat. Hy het die familieonderneming, VMR, wat grondverskuiwing behartig het, met groot welslae bestuur.

Hy is in 1990 met Lorraine getroud en twee dogters is uit die huwelik gebore.

Lorraine het aan Die Pos gesê Riaan het ’n oop hand vir die gemeenskap gehad en het gereeld verdienstelike gevalle ondersteun.

Hy sal veral onthou word vir sy spesiale, eiesoortige humorsin en skerp intellek. Riaan was besonder lief vir sport en het ’n wye algemene kennis oor feitlik alle sportsoorte gehad.

Die gedenkdiens het op Vrydag 18 Desember in die NG Kerk Thabazimbi plaasgevind. Hy word oorleef deur sy ma, Miempie, Lorraine en twee dogters.

Related Articles

Back to top button