Local newsNews

Formidabele vrou van Bela-Bela oorlede

Rina Breytenbach (84) van Bela-Bela is op Woensdag 30 Desember by die Warmbad Rusoord se tehuis vir bejaardes oorlede nadat haar gesondheidstoestand die afgelope paar jaar versleg het ná ’n beroerte.

“Alles aan haar het gespreek van die Spreuke 31-vrou se sterk en edel persoonlikheid.

Sy het geen kommer oor die toekoms gehad nie,” het Annalie Dykema, haar dogter, by navraag aan Die Pos gesê.

“As sy gepraat het, was dit met wysheid; as sy leiding gegee het, was dit met liefde. Sy het goeie toesig oor haar huishouding gehou en nie ’n lui haar op haar kop gehad nie. Haar lewe was soos in die Skrif staan: Haar kinders prys haar en haar man bewonder haar.”

Rina en haar man, Piet Breytenbach, het in 1995 by die Warmbad Renaissance-aftreeoord ingetrek. Hulle het voorheen in Mokopane en Polokwane gewoon.

Piet was veral aktief by die dorp se destydse sakekamer.

“My pa is in 2001 met Alzheimersiekte gediagnoseer waarna my ma hom vir nege jaar met soveel liefde, empatie en simpatie tuis versorg het,” het Dykema vertel.

“Sy was ’n versorger van formaat en het absoluut uit haar pad gegaan om hom met deernis en menswaardigheid in sy laaste jare te begelei.”

Piet is in 2011 oorlede. Dykema het aan Die Pos gesê haar ma het in 2018 ’n beroerte gehad wat haar gesondheid erg geknou het. Sy het daarna na die Rusoord verhuis waar sy toegewyde en spesialis sorg ontvang het. Haar familie was gerus in die wete dat sy die beste versorging gekry het.

“Ek is dankbaar dat ek haar laaste oomblikke saam met haar kon deurbring het,” het ’n hartseer Dykema aan Die Pos gesê.

“Daar is baie knap vroue daar buite, maar my ma het hulle almal oortref.”

Rina word onthou as ’n liefdevolle ouma en iemand met ’n besondere aanleg vir tuinmaak en haar mooi hart.

Haar gedenkdiens het reeds plaasgevind. Sy laat haar twee kinders, Johan Breytenbach en Annalie Dykema, met hul gesinne, asook haar twee broers, Jan en Berthie Stander, agter. Sy was ook die gelukkige ouma van vier kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Related Articles

Back to top button