Local newsNews

Skok nadat man sy eie lewe voor kerk neem

Die Bela-Bela-gemeenskap is kort voor Kersfees met skok vervul nadat ’n inwoner homself op die kerkterrein van die NG Moedergemeente in Mentzlaan aan ’n boom opgehang het.

Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie het ’n lid van die publiek die buurtwag om 05:45 op Sondag 20 Desember in kennis gestel van die verdagte toneel.

Gerhard Olivier van die RSRT-buurtwag het ondersoek gaan instel. Olivier het aan Die Pos gesê hy het op Nick Prinsloo (57) se liggaam afgekom. Hy was reeds dood.

Die nooddienste en die polisie is daarna ontbied.

Die polisie het bevestig dat geen gemene spel vermoed word nie en Prinsloo se familie is in kennis gestel van sy dood.

Volgens Prinsloo se neef, Lourens van Vuuren, was Prinsloo in die wildbedryf betrokke en het hy meesal buitelandse jagters op jagtogte geneem.

Prinsloo was in die jare tagtig bekend vir sy rolle as akteur in verskeie plaaslike films. Die bekendste hiervan was die film, Kampus, het Van Vuuren gesê.

“My hart was baie seer oor die nuus van sy dood. Niemand van ons het dit verwag nie.”

Prinsloo het kort voor sy dood briewe aan familielede geskryf. Volgens Van Vuuren het Prinsloo aangedui dat die lewe vir hom te veel geword het.

Hy het sy familie bedank vir hul vriendskap en ondersteuning deur die jare.

Van Vuuren sê hoewel niemand ooit die waarheid sal weet nie, vermoed die familie dat Prinsloo se gemoedstoestand voor sy dood beïnvloed is deur die negatiewe uitwerking wat die Covid-19-maatreëls op die toerisme- en jagbedryf gehad het.

Dié bedryf is swaar getref deur die inperkingsmaatreëls en groot finansiële verliese is gely. Professionele jagters het maande lank geen inkomste gehad nie.

’n Roudiens is kort voor Kersfees vir Prinsloo gehou. Olivier het gesê die familie sal sy neef as ’n aangename en opregte mens onthou.

Prinsloo laat sy ma en twee kinders agter.

  • Mense wat oorweldig word deur angs, depressie of negatiewe gevoelens word aangemoedig om die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsorganisasie (Sadag) se noodlyn te skakel by tel. 0800 567 567.

Related Articles

Back to top button