Local newsNews

Ounooi kry ’n nuwe lewe

Ounooi het sommer diep in die harte van Mookgophong se diereliefhebbers gekruip nadat sy die eerste keer op die Naboom-dierebeskerming se Facebookblad verskyn het.

Dié boerboelkruisteef is die eerste keer op Woensdag 9 Desember opgemerk waar sy verlate tussen die Constantia-pad en die bosse net buite Mookgophong rondgedwaal het.

Volgens Miekie Oberholtser, voorsitter en stigter van die organisasie, het ’n inwoner haar gebel en van die hond vertel.

“Ons het dadelik ’n span mense gekry en na haar gaan soek, want dit het geklink asof sy moontlik iewers ’n werpsel hondjies kon hê. Die hele strook bosse is deurgesoek, maar ons kon nie die hond of haar werpsel opspoor nie,” het Oberholtser gesê.

Skaars nadat die soektog afgelas is, het seuns haar op die terrein van Hoërskool Hans Strijdom in die dorp opgemerk.

Die hond was baie sku vir mense en het onder een van die klaskamers skuiling gesoek.

“Sy was baie bang en as iemand nadergekom het, het sy onder die klas gaan skuil. Ons het besef dat sy gerehabiliteer moet word. Ons het haar Ounooi gedoop,” het sy vertel.

Jacolien Strydom, ’n vrywilliger, het dadelik aangebied om Ounooi elke dag te gaan besoek en kos en water te gee. Nog ’n vrywilliger het ’n groot hondehok geskenk en dié is met komberse, kos en water op die stoep geplaas. Gelukkig was die skool gesluit en die terreinbestuurder het ook ’n ogie gehou.

Strydom kon op Saterdag 19 Desember al naby haar kom, maar sy het nog nie mense vertrou nie. Sy het begin stert swaai en geblaf.

Oberholtser het die situasie met dr. Naomi Joubert, veearts in die dorp, bespreek waarna besluit is om plek te maak vir Ounooi by die spreekkamer se hondehokke.

Sy sou op die skoolterrein te blootgestel gewees het aan vuurwerke wat op Oujaarsdag afgevuur word en ook die nasieners wat vroeg in die nuwe jaar by die skool besig sou wees met die nasien van matriekvraestelle. Sy is ’n ligte slaapmiddel toegedien en verskuif na die spreekkamer waar sy steeds gerehabiliteer word.

“Sy vertrou my nou al só dat ek en Jacolien saam met haar in die hok kan lê en haar vryf. Ounooi is baie saggeaard en selfs al het sy ’n harde lewe gehad, toon sy geen aggressie nie. Joubert het haar ondersoek en gevind dat sy nie tans dragtig is nie en dat haar algemene toestand by die dag verbeter. Sy is ongeveer ses jaar oud.

“Baie dankie aan elkeen wat reeds ’n geldelike bydrae gelewer het. Ons het nie genoeg woorde vir jul welwillendheid nie. ’n Baie spesiale dankie aan Jacolien Strydom wat haar elke dag met soveel liefde versorg het en haar vertroue gewen het. Jy is ’n baie spesiale mens en dit word weerspieël in al die Facebook-inskrywings oor jou omgee.”

Ounooi is Donderdag 7 Januarie gesteriliseer.

“Ons hoop vir ’n baie spesiale persoon om Ounooi aan te neem — iemand wat aan haar ’n gelukkige en veilige tuiste sal bied,” het Oberholtser gesê.

  • Inwoners wat ’n geldelike bydrae tot die Naboom-dierebeskerming wil maak of vir Ounooi wil aanneem, kan vir Oberholtser bel by tel. (014) 743 2987 of tel. 083 272 7157.

Related Articles

Back to top button