Local newsNews

Behou die Kersmaal se feestelikheid

Die Bosveld is bekend vir sy voorslagvroue agter die kospotte.

Die tradisionele Kersete is egter in ’n kategorie van sy eie. Dit het gegroei van Oukersaand se ligte ete waar geskenke uitgedeel word, tot uitgebreide familiekuiers op Kersdag met ’n tafel wat kreun onder drie soorte vleis, soetpatats, boontjies met spek en sampioene, gebakte blomkool en spierwit langkorrelrys met ’n keur van slaaie en ’n verskeidenheid soetgoed waarvoor almal swig.

Die Pos het met een van Thabazimbi se voorslaggasvroue gesels oor voorstelle vir vanjaar se Kerstafels — wat in baie huishoudings aangepas sal moet word weens die Covid-19-pandemie wat sy tande in bykans almal se beursies geslaan het.

Annelie Pelser, oud-Afrikaanse hoërskoolonderwyser en tans eienaar van die Deo Volente-gastehuis buite die dorp, het aan Die Pos gesê dit is vanjaar ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat die mense om ons iets te ete het vir Kersfees.

“Daar is duisende mense in die land wat nie weet waar die volgende bord kos vandaan kom nie. My raad aan mense wat groot Kersetes beoog, is om vanjaar vir hul gaste te vra om elkeen ’n gunstelinggereg saam te bring en die geld wat op dié manier bespaar word, aan behoeftige instansies te versprei.”

Pelser raai mense wat geldelik swaarkry aan om met ’n baie kleiner begroting as vorige jare te werk:

“Moenie moed verloor nie. Kyk na jou begroting en met slim aankope kan jy steeds ’n feestelike maaltyd aan familie en besoekers voorsit.”

Haar raad is om te begin by goedkoper vleissnitte. Heel hoenders wat in die oond gebak is, kan feestelik bedien word. Pak die gebakte aartappels of patatskywe en uieringe saam op die vleisbord. Vir tafelversierings kan rankplante, takkies met blare en blomme uit die tuin gebruik word.

“Vergeet van die tradisionele malvapoeding vir nagereg. Dit verg moeite om voor te berei en die bestanddele is duur. Room en roomys is vanjaar ’n luukse. As jy ’n pavlova wil voorsit, gebruik piesang pleks van duur bessies. Bedek die piesangskyfies met ’n bietjie suurlemoensap en strooisuiker om te verhoed dat dit verkleur en bedien saam met ’n karamelsous.”

Moet ook nie toeka se koekstruif vergeet nie, sê sy. Die helder kleure kan sommer gou enige Kerstafel opkikker. Wees oorspronklik met die opdiening. Vir ’n vinnige en goedkoop koekstruif benodig jy net ’n rolkoek (Swiss roll), ’n paar pakkies jelliepoeier van verskillende kleure en geure en vla.

Kyk vir spesiale aanbiedinge op voorafvervaardigde vla en gebruik vars vrugte in seisoen om op te snipper.

Die duurste item in ’n koekstruif is gewoonlik die blikkie karamelkondensmelk. Dit is amper ononderhandelbaar, want dit sê:

“Hierdie is ’n spesiale poeding!”

Bederf jou gaste met individuele koekstruif in mooi glase, is haar raad.

Related Articles

Back to top button