Local newsNews

Spierwit, met ’n tikkie kleur, vir 2020

Spierwit tafellinne en breekgoed met ’n tikkie kleur uit die tuin sal die perfekte versiering wees vir ’n Kerstafel met ’n vintage-tema.

Die beplanning vir ’n Kerstafel hoef nie ’n bekommernis te wees nie, maar maak dit een van die hoogtepunte ná ’n uiters “deurmekaar” jaar.

Die pragtige Bregje Engelbrecht van Mookgophong het as model opgetree en gewys dat ’n goue rok uit ’n ou versameling net die regte swier verleen aan hierdie Kersfeestafel.

Dit is somer en met die lieflike reën wat geval het, is baie tuine ’n lushof en net die regte plek om ’n feestelike tafel te dek.

Stap deur die tuin en soek die kol met die meeste koelte om die feesdag saam met geliefdes deur te bring. Gebruik dit wat jy in jou kas bêre vir “eendag” en stal dit op die tafel uit.

Pluk blare in skakerings van groen om die wit op te kikker en ’n gewone tuintafel en ysterstoeltjies kry die gestalte van ’n regte feestelike Kerstafel. Selfs die eenvoudigste blommetjies kan versiering wees en as ’n mens dit in ’n antieke of afgeleefde bak sit, is dit ideaal om ’n tafel weer mooi te maak met versiering van weleer.

Soek rond vir oudhede met die teken van jare se liefdevolle gebruik om dit interessant te maak en sommer ’n bietjie nostalgie by te voeg. Selfs ’n ou tydskrif of poskaarte is ook geskik om ’n outydse atmosfeer te skep.

Bregje Engelbrecht, wat vir Die Pos model gespeel het in hierdie artikel, het ’n goue rok uit Elrine van Staden se jeugjare gedra om die tema vir die tafel perfek te maak. Vra gerus gaste om ook iets uit toeka se dae saam te bring en dan die mooi stories oor die item te deel.

Dit gee almal ’n gevoel van ’n lang lewensduur en kan tot interessante gesprekke lei.

Laat dit 2020 se beste byeenkoms wees en ’n ware Christusfees in ’n deurmekaar, dol jaar waar die wêreld op sy kop gedraai is. Kom ons maak die wêreld waarin ons leef een van liefde en omgee.

Related Articles

Back to top button