Local newsNews

Só onthou Thabazimbi-inwoners toeka se Kersfees

Kersfees is vir baie mense ’n bittersoet tyd. Die vreugde oor Kersfees is baie keer ekstra groot en die hartseer sny ekstra diep. Pieter Coetzee het gaan delf na mooi herinneringe oor Kersfees uit toeka se dae.

In my grootwordjare was daar jaarliks drie groot samekomste: Wanneer die geelperskes in seisoen was en almal kom help het om die oorskotvrugte te verwerk, die lekker wildtuin-vakansies saam met my grootouers en dan natuurlik Kersfees op die familieplaas, Uitschot, in die destydse Wes-Transvaal.

Pieter Coetzee, Die Pos se verslaggewer in Thabazimbi. Op die inlasfoto is hy as klein seuntjie op Groenvlei, naby Sentrum.

Ons het in die koshuis van Laerskool Groenvlei op Sentrum, sowat 45 km buite Thabazimbi, gewoon. My pa was skoolhoof van ’n klein regeringskooltjie.

Daar was gewoonlik tydens Kersvakansies twee ander personeellede en hul gesinne wat ook op die skoolterrein gewoon het. Daar was dus genoeg slaapplek om sommer baie familielede te kan ontvang en spasie om na hartelus te speel.

My pa en die ooms wat kom kuier het, het gewoonlik met die trok die veld ingery en ’n geskikte doringboom gaan soek wat ons jongklomp dan in die saal versier het. Elke versiering was vir my iets wonderliks: veelkleurige waaiers wat oopmaak om ’n bal te vorm, metaalkleurige spirale wat aanhoudend draai en talle gekleurde, blink glasballetjies.

Ons kinders het ons verkyk aan die liggies met sneeumanne, Kersvaders, rooidakhuisies en sneeuvlokkies. Ons kinders is eers weer op Oukersaand in die saal toegelaat om die boom in al sy skitterende en flikkerende glorie te aanskou.

Dan was al die geskenkies reeds onder die boom uitgepak. Almal het op die vloer gesit en my pa het die geboorteverhaal van Christus uit die Bybel voorgelees waarna ons Stille Nag gesing het.

Ons is bederf met rooi en groen jellie met stywe vla en blancmange-poeding (’n soet, melkerige poeding) en daarna het ons oorgestap na die perdehoefsirkel voor ons huis waar my pa vuurpyle in bottels reggesit het — gereed om dit in die donker Bosveldnag af te vuur. Kersfees in die Bosveld is só afgesluit met skitterende vuurwerke wat dof in die helder sterrehemel wegraak en jakkalse wat ver in die veld tjank.

Thea Bezuidenhout, ook van Thabazimbi, is in 1938 in Nederland gebore en het op 22-jarige ouderdom na Suid-Afrika verhuis.

Sy het baie mooi herinneringe aan Kersfees as kind in Nederland. “Kersfees was ’n tyd van verwondering en afwagting; asof iets baie moois gaan gebeur; ’n spesiale tyd. Kersdag is gewoonlik yskoud in Nederland met wind en soms sneeu.”

Kersfees word oor twee dae gevier. Op eerste Kersdag (25 Desember) gaan gelowiges kerk toe en eet daarna ’n heerlike maaltyd tuis. Op tweede Kersdag (26 Desember) besoek Nederlanders familie of vriende of onderneem uitstappies soos om te gaan ysskaats.

Die winkels is mooi versier, strate vol liggies en Kersbome word versier.

“Buiten die gewone versiering van gekleurde balle saam met engele en sterre, vergulde neute en dennekegels, linte en strikke, het my ma ook sjokoladekransies aan die takke van ons boom vasgemaak.”

Die mooiste was natuurlik die kerse — ja, regte waskersies — wat in metaalhouertjies met knypers aan die takke vasgeknyp is.

“Ek kon ure sit en staar na die lig van die vlammetjies.”

Eetgoed wat ’n mens in baie Nederlandse huise oor Kersfees kry, sluit in appeltert, piesangpoffertjies, eierlikeur en ’n spesiale Kerskoek met rosyntjies en amandel.

“My ma het die dag voor Kersfees baie kos gemaak en daarvan op die eettafel uitgestal wat met ’n mooi Kersdoek gedek was en waar groot kerse gebrand het.”

“Ons het nooit met Kersfees geskenke gekry nie, maar wel op 5 Desember iets van Sinterklaas ontvang.”

Dit is tradisie in Nederland om Sinterklaas teen middel November te begin inwag wanneer hy kamstig met sy stoomboot van Spanje af kom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button