Local newsNews

Die Pos se kinderfonds bring vanjaar hoop

Een van die lekkerste dinge vir ons by die koerant is die jaarlikse briefies wat die kinders vir Kersvader skryf.

Dit was jare lank ook sommer vir Die Pos se personeellede die geleentheid om uit te vind wat is daardie jaar se moet-hê-items as jy wil “in” wees. So het ons ook seker gemaak dat ons bybly deur te weet wie was ouens soos Tinky Winky of Ben Ten of Bob the Builder.

Om nie eens te praat van die vinnigveranderende tegnologiese uitvindsels nie. En elke jaar het dit gebeur dat daar — tussen die hope briefies vol materiële wense — daardie één briefie was wat ’n mens oor en oor gelees het. En dan kon jy nie daardie aand as jy in jou bed lê daardie briefie uit jou kop kry nie.

Die Pos se kinderfonds het sy ontstaan in só ’n briefie wat ons op 27 Oktober 1995 (25 jaar gelede) van ’n meisietjie van Laerskool Eenheid in die destydse Nylstroom ontvang het.

Dit is wat sy geskryf het: “Liewe Kersvader, ek wil hê dit moet sneeu op Kersfees. Kersvader laat dit stil in die huis wees elke dag. Kersvader en laat die son skyn en daar mooi blou wolke wees. Die bome moet groen wees en die blomme moet mooi blink. Kersvader laat die dag lekker wees. Kersvader laat daar gedild (sic) in die huis ook wees. Kersvader sal u laat my ma en my pa nie baklei nie.” Ons weet nie wat van dié kind geword het nie. Sy het haar naam en adres bygeskryf, maar ons het nooit probeer om haar op te spoor nie. Miskien sal ons nog eendag.

Maar uit haar briefie is Die Pos Kinderfonds gebore. ’n Fonds wat oor die jare elke jaar tussen R40 000 en R80 000 uitbetaal (een jaar was dit R100 000) aan kinderwelsynsinstansies in Die Pos se lesersgebied. Dit sluit in Bela-Bela, Modimolle, Mookgophong, Vaalwater en al die klein dorpies tussenin.

Die eerste stap was om die winkels waar die koerant Vrydae versprei word, te nader en te vra of hulle bereid sou wees om hul wins op die koerant elke week terug te gee vir die kinderfonds. Op dié manier het ons ’n konstante R600 plus per week wat in die aparte kinderfonds-rekening geplaas word. Dit is so ’n rapsie minder as R30 000 per jaar.

Die winkelgroepe wat deelneem aan hierdie projek, maak dus nie ’n sent wins op hul weeklikse koerantverkope nie. Die res van die geld kom van skenkings van ons lesers, fondsinsamelings en weldoeners. Die rekening word elke Desember leeggemaak en in Januarie begin ons weer met ’n 0-balans. Die jaar 2020 was ’n verskriklike jaar.

Een waarin klein sakeondernemings soos Die Pos op ons knieë was. Daar was maande dat ons nie ons eie personeel se volle salarisse kon betaal nie. Maar danksy die Waterberg se sakelui met gróót harte het Die Pos die jaar oorleef en kon ons ook — soos die afgelope 25 jaar — ons gemeenskap sterker maak deur te help om die ontsettende welsynsnood in ons omgewing te verlig.

* Die onder­nemings in Bela-Bela wat elke week hul deel van die koerant­geld aan Die Pos-kinder­fonds afstaan, is Spar, Pick n Pay, Sonskyn Motors, Vyfster Dienste, Intaba Indle, Swift Diesel, Bosveld Diesel en Shoprite. Die Modimolle-sakelui wat op dié manier tot die fonds bydrae, is Blaze, Fruit & Veg Hyper, Hunter Slaghuis, Hoeksteen Aqua, Maroela Kafee, Steers, Big L Staal, Pick n Pay, Hunky Dory, Boerseun Slaghuis & Deli, Shoprite, Ster Radio, Cate a Bake, VBK Express, Bosveld Slaghuis en Voortrekker Slaghuis. Naboom­spruiters wat geld skenk is Nantes Padstal, Koedoe Motors, Springbok Slaghuis, Big L Staal en Total. Uit Vaalwater ontvang ons bydraes van Vaalwater Apteek, OK Minimark, Doornfontein-kontantwinkel en Bosveldland Slaghuis.

Die Pos wil vandag dankie sê aan dié instansies. Ons wens julle kon saam met ons die vreugdestrane beleef van die instansies wat baatgevind het by jul bydraes.

’n Lys van plekke wat vanjaar kontantbydraes van Die Pos-kinderfonds ontvang het, verskyn hieronder.

Vir navrae oor die fonds bel vir Keina Swart by tel. (014) 736-2723 of sel. 083 654 5820.


Baie dankie aan die verkoopspunte wat getrou ’n deel van hul koerantgeld aan Die Pos se kinderfonds skenk. Danksy dié goedhartigheid kon Die Pos-kinderfonds tydens die grendeltydperk kontantskenkings aan die volgende instansies maak:

• Huis Talje, Bela-Bela (twee uitbetalings)
• Stadspoort Bela-Bela (twee uitbetalings)
• Abraham Kriel-kinderhuis Modimolle (twee uitbetalings)
• BOYF Bela-Bela (drie uitbetalings)
• Food Drive Modimolle
• Kos en Klerebank Bela-Bela
• Zani Roos
• Rata-hulpfonds Modimolle
• Noodhulp Voedselprojek
• Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys
• Faith Kidz Modimolle

Related Articles

Back to top button