Local newsNews

Ma én dogters se woordkuns skitter

As dit by drama en skryfkuns kom, keer niks vir Lukas en Suzan Stander en hul gesin van Thabazimbi nie.

Suzan Stander en haar twee dogters is tydens Saterdag 5 Desember se aankondiging van die wenners van die ATKV-Thabazimbi-tak se skryfkunskompetisie as poësiewenners in hul onderskeie kategorieë aangewys.

Suzan was die poësiewenner in die volwasse kategorie en het ook goud vir haar kortverhaal behaal.

Taryn (gr. 5) het drie poësiestukke in die kategorie vir gr. 4-5-leerders ingeskryf en is uiteindelik as wenner aangewys.

Een van haar gedigte het ’n derde plek behaal. Haar prosa-inskrywing het haar die prys as naaswenner besorg.

Milan (gr. 3) is as wenner vir poësie in gr. 3 aangewys en was ook die algehele poësiewenner in gr. 1-3. Taryn en Milan is by die KunsteGrot in Thabazimbi se RiVo-dramaskool betrokke en het regdeur die inperkingstyd aan virtuele kuns- en dramakompetisies deelgeneem.

Milan het ook die wisseltrofee vir die beste junior dramastudent verower.

Suzan het aan Die Pos vertel sy en haar twee dogters hou daarvan om saam in die kombuis te bak en brou, maar werskaf ook af en toe in die tuin. Hulle verdeel take sodat elkeen ’n beurt kry om te gaan lees. Dan word daar gesoek na skryfgoed, want die gedigte in hul koppe moet op papier vasgelê word.

Elkeen soek haar eie stil hoekie om te skryf. Pa Lukas is ’n geduldige lid van die gehoor wat na al die voordragte moet luister.

Om kostuums aan te trek en hul skryfkuns op te voer is nie vir dié gesin vreemd nie. Lukas moet dan agter die kamera inspring en boonop die “waarderende gehoor” met luide applous ook wees.

Die twee dogters is nie op hul monde geval nie en sal gou kapsie maak as hulle dink die applous was nie hard genoeg nie. Hulle het immers vanjaar onderskeidelik die redenaarstrofee en die dramatrofee in hul skool verower!

“Ons is ’n hele dramasirkus,” het Lukas opgemerk. “Met julle sal ek gaan toer en boonop hope geld maak.”

Related Articles

Back to top button