Local newsNews

Absa-tak sluit deure in Vaalwater, maar nié ENB

Absa-kliënte van Vaalwater sal voortaan etlike kilometers moet aflê om by hul naaste tak besoek af te lê nadat Absa besluit het om hul tak in dié dorp se deure te sluit.

Gillian du Toit, Absa-woordvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê dié tak het sy deure reeds einde September finaal gesluit en kliënte is almal daarvan in kennis gestel.

“Baie min kliënte het dié tak besoek en daarom het Absa besluit om die tak te sluit,” het Du Toit gesê.

Kliënte word aangeraai om takke in Modimolle of Lephalale te besoek, het Du Toit gesê.

“Dit is die heel laaste opsie om ’n tak se deure te sluit, maar die voortbestaan van elke tak word bepaal deur die kliënte se besoeke en die dienste wat benodig word. Ons wil graag aan elke rekeninghouer gewaarborgde professionele diens lewer,” het sy gesê.

“Ons raai kliënte aan om van ons internetdienste, asook van die Absa-toepassing op hul slimfone gebruik te maak. Die outomatiese teller (kitsbank) sal steeds beskikbaar wees.”

  • Talle inwoners van Vaalwater het aan Die Pos gesê hulle is bekommerd oor gerugte dat die Eerste Nasionale Bank-tak in die dorp óók sy deure gaan sluit en hulle dan gestrand sal wees.

    Dié bewerings is egter deur Lee-Anne van Zyl, ENB se hoofuitvoerende- beampte oor liggingsbestuur, as fopnuus afgemaak. Sy het aan Die Pos gesê dié tak is steeds oop.

Related Articles

Back to top button