Local newsNews

Menseregtekommissie maak stem dik oor riool

Die munisipale bestuurder en verteenwoordigers van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het verlede week behoorlik bontgestaan om vrae van die Menseregtekommissie (MRK) oor onopgeloste rioolprobleme te beantwoord.

Die MRK het in ’n verklaring gesê ’n verhoor is by ’n gasteplaas buite die dorp gehou weens die talle klagtes van rioolbesoedeling in die munisipale gebied wat by die MRK ingedien is.

Die rioolkrisis het in 2019 groot opslae gemaak toe riool by herhaling in die Nylsvley-natuurreservaat beland het.

Die industriële gebied in die dorp is veral hard getref deur rioolprobleme. Die verhoor is gehou om die munisipaliteit daarop te wys dat die inwoners se reg op skoon water en ’n veilige omgewing geskend is.

Die MRK voer aan dat die munisipaliteit se reaksie op die rioolkrisis nie voldoende was nie en dat daar geen werklike verbetering plaasgevind het nie.

Dit situasie het inteendeel vererger, lui ’n verklaring wat deur die MRK uitgereik is.

Die verhoor is bygewoon deur lede van die departement van water en sanitasie, Limpopo ekonomiese ontwikkeling, die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), asook verteenwoordigers van die premierskantoor.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront-Plus, wat ook klagtes by die MRK ingedien het oor die riool, het in reaksie gesê die munisipale bestuurder, dr. Melusi Shepherd Mhlanga, het onder druk van die MRK toegegee dat die munisipaliteit die gemeenskap gefaal het.

Victor Mavhidula, voorsitter van die verhoor, het gesê korrupsie het die gemeenskap negatief beïnvloed. Marlene van Staden, DA-burgemeester, het na afloop van die verhoor aan Die Pos gesê die algemene rioolprobleme bestaan al vir langer as 20 jaar en sy het Mhlanga ontmoet om die feite na te gaan.

Sy is van mening dat die ligging van die huidige infrastruktuur bydra tot die probleem.

“Die hele township se rioolinfrastruktuur moet eintlik oorgedoen word om die probleem op te los.” Van Staden het gesê ’n opgraderingsprojek is in 2016 goedgekeur, maar dit het weinig verskil gemaak.

“Ons het in 2019 weer via die departement van water en sanitasie aansoek gedoen vir befondsing om die probleem op te los. Die departement het dit goedgekeur en ná ’n lang gewag en die Covid-19-jaar is die kontrakteur twee weke gelede aangestel.”

“Dit behoort mense ’n idee te gee van hoe die ANC-regering probleme aanpak. Om jou eie amptenare by die MRK te verkla, sal nie die probleem herstel nie,” het Van Staden gesê.

Die MRK se bevindinge sal na verwagting in die eerste kwartaal van 2021 amptelik bekendgemaak word.

Maritz het gesê die VF-Plus sal intussen voortgaan om die situasie in die munisipaliteit te moniteer en steeds die belange van die gemeenskap probeer beskerm.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button