Local newsNews

Bela-Bela se David aangewys as ‘Meneer Hart’

David Schabort (19) het Bela-Bela se naam op Saterdag 28 November hoog gehou tydens die finale ronde van die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie.

Schabort was die jongste finalis in vanjaar se kompetisie wat weens die Covid-19-pandemie virtueel aangebied is.

Video-opnames en fotosessies met die top 10-finaliste is vroeër in Kaapstad opgeneem vir die kroningsaand.

Die organiseerders het verseker dat die glans en opwinding van die geleentheid behoue bly en ’n puik produksie saamgestel.

Schabort en Danny Doman van Modimolle het die Waterberg verteenwoordig. Vanjaar se paneel beoordelaars het bestaan uit Storm Johnson (Mev. Suid-Afrika-finalis), Aretha Bauwens (aktrise) en Saskia Riley (entrepreneur).

Talle Bela-Bela-inwoners het die kroningsaand saam met Schabort by ’n kuierplek in die dorp bygewoon. Die kroning is regstreeks uitgesaai.

Die ondersteuners het luidkeels gejuig toe Schabort met die kroon weggestap het in die kategorie: Mr Heart. Dié titel is aan hom toegeken danksy sy volgehoue en suksesvolle liefdadigheidsveldtogte.

Roan Kitshoff van Kaapstad is as Mr Photogenic en Mr Physique gekroon en Songezo Mankahla van Margate het die People’s Choice-toekenning verower.

Die topdrie-toekennings het gegaan aan Hannes van der Walt van Kempton Park (die nuwe Mnr. Suid-Afrika vir 2020/21) met De Villiers Koster van Centurion as naaswenner en Lee Jordan Jacobs van die Paarl in die derdeplek.

Schabort het aan Die Pos gesê hy gaan steeds voort met liefdadigheidswerk omdat hy werklik omgee vir minderbevoorregtes.

Hy het gesê hy beoog om by baie meer van die deurlopende Mnr. Suid-Afrika-projekte in te skakel.

“Ek bedank elkeen wat my ondersteun het en bydraes gemaak het by verskillende projekte. Sonder julle lojale ondersteuning sou die kompetisie nie vir my moontlik gewees het nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button