Local newsNews

Aleit maak ‘Tyd’ vir Mookgophong

Die bekende Aleit Swanepoel van die KykNet-program, Tyd Met Aleit, motiveringsspreker en trou- en geleentheidsbeplanner het in die Waterberg kom kuier.

Die gewilde televisiepersoonlikheid het op Saterdag 28 November ’n geselligheid aan huis van Jurie en Corietha Müller van Mookgophong bygewoon.

Dit was ’n aand van lag en huil. Swanepoel het op sy besondere manier staaltjies oor sy lewe en sy werk met die pragtige vroue van die dorp en omgewing gedeel.

Swanepoel het ’n paar maande gelede — nadat die grendelregulasies verslap is — besluit om 50 dorpe te besoek om sy boodskap van hoop te versprei.

Hy het die uitnodiging op sosiale media gerig dat hy genooi kan word om op plattelandse dorpe te kuier.

Emile Mostert, sy kameraman, het dié avontuurlike reise saam met hom aangepak. Mookgophong was die 29ste dorp wat die eer te beurt geval het en Swanepoel met sy aansteeklike lag en innemende persoonlikheid het gesorg dat die vroue skater van die lag.

Hy het hulle geïnspireer om meer positief te wees in die uitdagende tye waarin ons leef.

“Die vroue is so goed versorg en het so mooi aangetrek. Die kos was heerlik, die atmoseer lekker en die gaskunstenaar uitstekend,” het Swanepoel aan Die Pos gesê.

Verskeie vroue wat die geselligheid bygewoon het, het op sosiale media groot lof gehad vir Swanepoel en geskryf dat dit ’n onvergeetlike en verrykende ervaring was.

Swanepoel het in Worcester in die Wes-Kaap grootgeword en was nie gewoond aan die leefstyl wat hy vandag handhaaf nie. Sy pa was ’n pastoor en hulle het dit nie breed gehad nie, het hy vertel.

“Ons het soms nie geweet waar die volgende ete vandaan sal kom nie. Ek bejammer nie myself nie en moontlik is jou storie hartseerder as myne, maar dit is my storie en my boodskap wat ek graag wil bring: Daar is hoop! As ek net een persoon kan laat lag, het ek my doel bereik,” het hy gesê.

Hy het ook die vroue gemotiveer om hul beste eienskappe te ontwikkel en dit aan te wend tot voordeel van hulself en ander.

Die aand is verder vervolmaak deur die pragtige sang van Cordier De Beer (Corrazervas), bekende sanger en liedjieskrywer van Vaalwater.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button