Local newsNews

Vrywilligers, sakelui sorg vir nuwe vullisdromme

Aksie Opknap, die span vrywilligers van Modimolle wat die dorp mooi en netjies wil hou, is steeds hard aan die werk.

Die span het die afgelope week vullisdromme, wat deur sakelui en ander organisasies geborg word, bekend gestel.

Een van hierdie vullisdromme is in Thabo Mbekiweg, reg voor Hoërskool Nylstroom, geplaas.

Volgens Erna Human van Aksie Opknap is daar min munisipale vullisdromme en daarom beland baie papiere op die sypaadjies.

“Ons is baie opgewonde oor ons nuwe projek. Ons het vir Zibi ingespan om te help met die groot tekort aan vullisdromme,” het sy gesê.

Aksie Opknap het Zibi, die volstruis van zip-dit-in-die zibbieblik-faam, laat herleef om die dorp se kinders te leer om eerder op te ruim as om te mors. Die groep wil inwoners aanmoedig om ’n straat of omgewing “aan te neem” en verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar om dit netjies te hou.

“Dit sluit pragtig aan by die Fokus Deo-gemeente se slagspreuk van ‘I’ll be the difference’ en hul gereelde projekte om die strate op te ruim,” het Human gesê.

“In oorsese lande is dit algemeen dat mense self sorg dat ’n sekere deel netjies bly en onderhou word en nie vir die munisipaliteit wag om dit te laat gebeur nie.”

Aksie Opknap het al verskeie projekte aangepak soos om die ingange na die dorp en verskeie sypaadjies te verfraai.

Dawie Traut vervaardig die vullisdromme en Maryka Wagner ontwerp die plakkers wat daarop verskyn. Glen Maritz sny die sy- paadjie se gras.

’n Hele aantal ondernemings het reeds vullisdromme geborg. Hulle is self verantwoordelik daarvoor om die vullisdromme leeg te maak.

“Aksie Opknap het ’n goeie verhouding met ons munisipaliteit en werk nou saam met hulle om die dorp netjies te hou. Saam is ons sterker en kan ons op hierdie manier ’n positiewe verskil maak,” het Human gesê.

Diegene wat belangstel om ’n vullisdrom te borg of aan te sluit by die span, kan Human bel by tel. 082 348 6928, Henna Nothnagel by tel. 083 417 8530 of vir Alberta van Jaarsveld by tel. 076 812 0282.

Related Articles

Back to top button