Local newsNews

Ligloop vir s … slange!

Slange is gewoonlik dié tyd van die jaar — ná die reën en tydens warmer weer — lief daarvoor om rond te seil.

Theunis Victor, slangvanger en –kenner van Modimolle, waarsku inwoners om veral versigtig te wees wanneer hulle in die tuin werk.

“Kyk mooi waar jy trap of ’n tak snoei. Hou erwe skoon en verwyder tuinafval en bourommel, want dit bied natuurlike skuiling vir slange,” waarsku hy.

Hy beveel aan dat mense takke en struike só snoei dat dit nie naby die vensters is nie.

“Wanneer jy op ’n slang afkom, staan doodstil of beweeg stadig agteruit. Hou jou oë op die slang en kyk vir kenmerkende eienskappe om dit later te kan weergee,” is sy raad.

Volgens Victor moet ’n mens iemand wat deur ’n slang gebyt is, sover moontlik probeer kalm hou sodat hul hartklop nie verhoog nie.

Haal horlosies, ringe en armbande af voordat daar swelling is. Moenie skielike beweging maak nie en kom so vinnig moontlik by ’n hospitaal uit vir noodbehandeling.

Dit is daar waar die inligting oor die slang help om die nodige serum te bepaal. Indien ’n slang iemand in die oë gespoeg het, was dadelik die oë met koue water uit en kry daarna so gou moontlik mediese hulp. Mense wat op vakansie gaan en tyd in die buitelug en natuur deurbring, moet veral op die uitkyk wees vir slange.

“Skud jou bed en skoene uit, moenie saans kaalvoet rondstap nie, gebruik ’n flits en hou tente toe,” waarsku hy. 

Hy waarsku mense om nie slangbyte self te probeer behandel met boererate nie.

Slangbyte kan slegs deur opgeleide mediese personeellede behandel word en elke slangbyt se behandeling kan drasties verskil. Inwoners wat op slange afkom, word aangeraai om ’n kundige slangvanger te bel om die reptiel te verwyder en te hervestig.

In Bela-Bela kan mense vir Rudi Janse van Vuuren bel by tel. 082 045 6427 of vir Jan Louis Jacobs by tel. 064 531 2473.

Op Modimolle kan inwoners vir Theunis Victor bel by tel. 082 823 6910 of LD Pienaar by tel 072 475 6414.

Related Articles

Back to top button