Local newsNews

Gesin staan tweede dogter aan die dood af

Medelye het die afgelope week vir die Snyman-gesin van Bela-Bela ingestroom nadat hul dogter, Marlize van Niekerk (45), op Dinsdag 17 November in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria oorlede is.

Die Snyman-familie besit en bestuur al jare lank die Loebies-roofdierpark buite die dorp.

Van Niekerk is die dogter van Hennie en Antoinette Snyman. Haar sussie, Annel Snyman, is in 2019 by ’n vakansieoord in KwaZulu-Natal dood aangetref.

Annel se dood het landwyd opslae gemaak nadat Chris Luüs, bekende sakeman van Bela-Bela en destyds haar kêrel, van moord op Annel aangekla is.

Hy ontken dat hy haar vermoor het en het destyds in ’n openhartige onderhoud met Die Pos gesê hy is platgeslaan en erg getraumatiseer ná Annel se dood. Hy is intussen op borgtog vrygelaat. Die hofsaak sal na verwagting aanstaande jaar voortduur.

Marlize was, net soos haar sussie, voor haar dood in die wildbedryf betrokke. Sy het onder meer met wild handel gedryf.

Vriende en familie was erg geskok oor haar skielik dood die afgelope week. Haar ma, Antoinette, het by navraag aan Die Pos gesê Marlize het in Julie vanjaar geval en ’n hoofbesering opgedoen. Sy het in die vier maande daarna gesondheidsprobleme ontwikkel en is verskeie kere in die hospitaal opgeneem.

Sy het goeie vordering gemaak en die dokters en familie was vol hoop dat sy volkome sou herstel. Die Covid-19-inperkings het dit vir haar ouers baie moeilik gemaak om haar in die hospitaal te besoek en hulle kon haar vir slegs drie minute op ’n keer besoek.

“Ons het vertrou dat sy volkome sal herstel. Nou moet ons vorentoe kyk en elke dag nuut hanteer. Ons harte is stukkend en ons het tyd nodig om emosioneel te herstel. Tyd genees nie werklik nie. ’n Mens leer net om jou hartseer te hanteer,” het haar broer, Nardus, aan Die Pos gesê. “Ons voel bitter en seer, maar aanvaar dat die Vader se wil geskied het. Ek dink dit is belangrik dat mense leer hoe om te bid, want al bid mense dat iemand moet bly leef, gebeur dit nie altyd nie. Diegene wat agterbly, se lewens is nooit weer dieselfde nie.”

Marlize se begrafnis vind op Vrydag 27 November om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk in Bela-Bela plaas.

Sy laat haar ouers, Hennie en Antoinette, haar dogter, Denize, asook haar broer Nardus en suster, Karlien van Burick, agter.

Related Articles

Back to top button