Local newsNews

Dorp rou oor geliefde onnie

Carel van Heerden (28), ’n bekende en geliefde inwoner van Bela-Bela, het op Vrydag 20 November in ’n fratsongeluk by sy ouers, Piet en Fredrieka, se huis in die Noodhulp-omgewing buite die dorp doodgeskok.

’n Emosionele Fredrieka het aan Die Pos gesê Carel en sy verloofde, Danielle Smith, en haar ouers, Ian en Hanrie, sou dié naweek saam na ’n plaaslike trou-venue gaan kyk het waar die twee mense wou trou. Dit sou ook ’n gulde geleentheid vir die twee families wees om saam te kuier terwyl hulle die trouplanne bespreek.

Carel en Danielle het in Maart vanjaar verloof geraak, maar het hul troue (wat op Saterdag 21 November sou plaasvind) weens die Covid-19-pandemie na Junie 2021 uitgestel.

Volgens Fredrieka het Carel, Danielle en sy aanstaande skoonfamilie die Vrydagaand by die plaashek stilgehou en hy het uitgeklim om die hek oop te skuif. Die hek het ’n elektriese motor en is onlangs deur ’n elektrisiën gediens.

Die kragkabel van ’n lig by die hek was klaarblyklik foutief en toe Carel aan die hek vat, het die kragstroom deur hom gegaan. Piet en Danielle het Carel na die Phodi-kliniek in die dorp gehaas. Pogings om sy lewe te red was tevergeefs en Danielle het gesien hoe die lewe uit haar verloofde kwyn, het Fredrieka vertel.

Die Pos het oor die jare gereeld oor Carel en sy ouboet, Ranier, se prestasies berig. Carel is die afgelope week beskryf as ’n geliefde mens wat die respek van sy seniors verdien het en ’n voorbeeld aan sy juniors gestel het.

“Die gemeenskap het ons omvou met liefde en medelye,” het Fredrieka gesê.

“Hulle het vragte kos aangedra. Ons is dankbaar vir almal wat ons bystaan, vir ons bid en wat ons seun se nagedagtenis eer. Dit is die moeilikste tyd in ons lewens. Ons moet almal berading ontvang om dié hartseer en verlies te verwerk,” het ’n hartseer Fredrieka gesê.

Carel is destyds in Pretoria gebore. Hy was in ’n kleuterskool in Rietfontein en daarna het die familie na Bela-Bela verhuis waar hy by Laerskool- en Hoërskool Warmbad skoolgegaan het.

Hy het op 15 sy passie vir sang ontdek en was een van Marga Roos, sangafrigter in die dorp, se studente.

Carel het graag in sy gemeenskap opgetree en was veral baie gewild by senior burgers van die dorp omdat hy so innemend was. Hy het sy graad in onderwys deur Unisa behaal en ingeskryf vir verdere studie in sakebestuur.

Hy het ondermeer by Laerskool Warmbad, Lord Milner Primary School in Settlers en tot met sy dood by die Curro-skool in Mafikeng onderwys gegee.

Hy wou nog altyd ’n sangstudio op die been bring. Hy en sy verloofde het ’n geskikte perseel daarvoor in Hartbeespoort gekry en was besig om planne te finaliseer toe die tragedie gebeur het, het Fredrieka vertel. Ranier het sy broer beskryf as ’n gentleman, ’n kalm persoon wat onstuimige situasies kon ontlont en het gesê Carel het “’n pad met die Here gestap.

“Ek weet nie hoe om hom werklik te beskryf nie, want hy was my motivering en persoon op wie ek in enige situasie kon staatmaak. Ek sal nou nooit die best man op sy troue kan wees nie. Ek glo dat ons almal eendag weer op ’n plek sal kom waar ons weer kan lag en die mooi van Carel om die braaivuur sal onthou.”

Carel se roudiens vind op Saterdag 28 November vanuit die NG Warmbad Wes-gemeente in die dorp plaas.

Hy laat sy ouers, Piet en Fredrieka, sy broer Ranier en sy verloofde Danielle agter.

  • Covid-19-maatreëls bepaal dat begrafnisgangers tot 250 beperk word. Die familie vra dat mense wat die begrafnis wil bywoon, asseblief hul teenwoordigheid vooraf bevestig.

Related Articles

Back to top button