Local newsNews

Kinderhuis se Kersliggies dié naweek aangeskakel

Een van die hoogtepunte op Modimolle se Desember-kalender is die jaarlikse aanskakeling van die Abraham Kriel-kinderhuis se Kersliggies.

Dié derduisende, vrolike liggies word weer op Saterdag 28 November aangeskakel.

Soos kinderhuise elders in die land, gebruik die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle hierdie projek as ’n fondsinsameling.

Inwoners en hul kuiergaste word genooi om die skouspel te beleef en te smul aan die eetgoed wat by ’n verskeidenheid stalletjies beskikbaar is. Die toegangsgeld is R10 per persoon. Volgens Marlene de Villiers van die kinderhuis kan besoekers uitsien na nog meer liggies as verlede jaar.

Een van die Kerstonele wat uitgebeeld word, is van Jesus se geboorteplek met regte skape wat “diens doen” in die stal.

“Ons het ook ’n besige vermaakprogram. Die bekende vioolspeler Lizelle le Roux tree tydens die opening op. Daar is op Saterdag 5 Desember “Carols by Candlelight” saam met Cara Viljoen en die groep Onbeskaamd. Viljoen tree weer op 11 Desember op en dan is daar op Saterdag 19 Desember ’n vertoning deur Marco en Marissa,” het De Villiers gesê.

Die jongspan kan ook agterop ’n wa klim wat hulle deur die roete op die kinderhuis se terrein sal neem om die Kersliggies te bekyk.

Daar sal streng by die Covid-19-veiligheidsmaatreëls gehou word. Vir meer inligting skakel die kinderhuis by tel. (014) 717 5264 of vir De Villiers by tel. 065 891 6616.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button