Local newsNews

Pad gesluit nadat brug insak

Die Elandskuil-laagwaterbrug oor die Krokodilrivier, wat toegang aan inwoners en oewerboere tussen Thabazimbi en Koedoeskop verleen, is gesluit nadat ’n groot ankergedeelte van die brug aan die een oewer inmekaar gesak het.

Gerrie Visagie, hoof van die Thabazimbi-munisipaliteit se rampbestuur, het in ’n gesprek met Die Pos genoem dat die Elandskuil-brug tydens ’n vorige groot vloed heelwat skade opgedoen het met erosie en wegkalwing aan die fondasies van die stutpilare.

Die Thabazimbi-munisipaliteit het toe by die Waterberg-streeksmunisipaliteit, onder wie se jurisdiksie die betrokke brug val, aansoek gedoen vir dringende onder- houdswerk aan die brug om dit vir verkeer te beveilig.

 

ADVERTENSIE/ADVERTISEMENT

 

Daar is toe reeds waarskuwingsborde aangebring wat motorryers waarsku dat die pad gesluit is as die laagwaterbrug oorstroom is. Intussen is die enkelverkeer-brug by Koedoeskop met ’n nuwe tweerigtingverkeerbrug vervang en hoewel daar vir die Elandskuil-laagwaterbrug begroot is, het die geld glo opgedroog en is die werk nooit gedoen nie.

Die reën van die afgelope paar weke het vermoedelik die fondasies verder uitgekalwe en die fondasie van die brug het by een van die oewers inmekaar gesak.

Die brug word gedurende die droër seisoen hoofsaaklik deur plaaslike inwoners en pendelaars tussen die Northam-platinummyn en die Jabulani-informele nedersetting gebruik.

“Ek het onmiddellik besef wat die omvang kan wees en voorsorg getref toe ek op Donderdag 12 November die berig ontvang dat ’n gedeelte van die brug inmekaar gesak het,” het Visagie gesê.

Met sy aankoms op die toneel het hy dadelik versperrings opgerig en die brug vir voertuie en voetgangers gesluit.

Die rivier vloei redelik sterk onderdeur die brug en hou ook vir voetgangers ’n gevaar in indien hulle in die water beland en deur die sterk stroom meegesleur word.

Weens die sluiting van dié toegangsroete moet daar nou van alternatiewe roetes oor Koedoeskop of Thabazimbi gebruik gemaak word.


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button