Local newsNews

AfriForum gee aandag aan gate

Slaggate in die strate van die woonbuurt in Modimolle is die afgelope week opgevul.

Die plaaslike AfriForum-tak het, met die hulp van munisipale werkers, slaggate in Swartstraat naby Laerskool Nylstroom, Van Niekerk- en Elandstrate en die pad wat vanaf die MDR-hospitaal na die Waterbergskool vir CVO, herstel.

Die Fokus Deo-gemeente het ook van die teer gebruik om slaggate in hul omgewing op te vul. Die teer is deur AfriForum verskaf en die munisipaliteit het werkers beskikbaar gestel.

Volgens James van Zyl, voorsitter van die Nylstroom-tak, gebruik hulle die 1 200 lede se ledegeld om die teer aan te koop.

’n Gedeelte van die ledegeld, wat R50 per maand beloop, gaan na AfriForum se hoofkantoor.

“Hier is talle AfriForum-lede wat onlangs verhuis het en nog by ander dorpe gere- gistreer is, of slegs by hoofkantoor geregistreer is. Indien hulle hul adresverandering by hoofkantoor doen, kan hulle onder die Nylstroom-tak val en sal ledegeld aan ons tak toegewys word en ons meer projekte kan aanpak om die dorp te verbeter,” het hy gesê.

AfriForum se buurtwag skakel in by die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Die buurtwaglede is almal vrywilligers en ry snags patrollies, maar help ook die polisie waar dit nodig is.

“Die buurtwaglede is gedissiplineerd en word goed opgelei. Hulle moet hulle aan die AfriForumgedragskode onderwerp. Ons Nylstroom-buurtwag werk saam met die polisie, die Heritage Protection Group (HPG), veiligheidsondernemings en ander veiligheidstrukture in die omgewing om misdaad te beveg,” het Van Zyl gesê.

Die buurtwaglede word toegerus met radio’s, nagsigtoerusting, koeëlvaste baadjies en ander veiligheidstoerusting.

“Ons beplan om binnekort ’n hommeltuig (drone) te koop om te help wanneer ons na voortvlugtendes soek en gebiede waar misdaad verwag word, dop te hou. Dit kan ook gebruik word vir die opsporing van gesteelde eiendom en vee,” het hy gesê.

Diegene wat hul lidmaatskap wil nagaan of aansluit by AfriForum, kan Van Zyl bel by tel. 082 575 6902.

Related Articles

Back to top button