Local newsNews

Meer as ’n eeu se groot genade

Om ’n hoë ouderdom te bereik is wonderlik, maar om ouer as ’n eeu te word, is ’n uitsonderlike mylpaal.

Sophia Rossouw van Die Oog-aftreelandgoed buite Mookgophong het vanjaar 101 somers agter die rug.

Sy is op 3 Maart 1919 in Harrismith gebore en was die tweede dogter van genl. Melt van Schoor en sy vrou, Martha, wat ’n nooi De Jager was.

Haar pa, ’n bekende perdeboer, was ’n kommandant in die Tweede Vryheidsoorlog en is deur genl. Christiaan De Wet as generaal aangestel tydens die Rebellie. Hy was ook saam met De Wet in die gevangenis. Hy was later jare Inspekteur van Lande in die Oranje-Vrystaat.

Rossouw het in Bloemfontein grootgeword en daar matriek geskryf. Sy het ná skool as tikster by Die Volksblad in Bloemfontein begin werk.

Na haar pa se aftrede, het die gesin na Reitz verhuis waarna sy daar in die Handelshuis begin werk het. Sy het vinnig opgang gemaak en gou bevordering gekry as die privaat sekretaris van die hoofbestuurder.

Sy is in 1946 met Loffie Rossouw, ’n prokureur, getroud waarna hulle 24 jaar in Welkom gewoon het. Al drie die Rossouws se seuns het in hul pa se voetspore gevolg en die regte as beroep gekies.

Die Rossouw-egpaar het in 1989 na die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle verhuis waar Loffie in 2000 oorlede is.

Sophia het aan Die Pos gesê sy het in haar jongdae gehou van perdry, musiek en ballet. Later jare het sy graag naaldwerk gedoen en was sy ook lid van verskeie kore. Haar eerste liefde was egter die Voortrekker-beweging en danksy haar ondersteuning en motivering is verskeie kommando’s by laerskole gestig.

“Die jeug van vandag leef asof daar nie ’n môre is nie. Hulle is ligsinnig en hou hul op met ’n gejaag na wind. Ek het op my oudag geleer dat aanpasbaarheid die grootste deug is. Dit is al hoe ’n mens altyd tevrede kan wees. Ek wens ek kan hierdie deug aan die jongmense oordra.” het sy aan Die Pos gesê.

Die Bybel bly haar gunstelingboek van alle tye. Sy sou wat wou gee om dit nog self te kon lees.

Haar sig en gehoor het baie versleg en op 80-jarige ouderdom het sy begin om daagliks haar gebede neer te skryf ná haar stiltetyd met die Here.

’n Mede-inwoner van Die Oog-aftreelandgoed buite Mookgophong, waar sy die afgelope ses jaar woon, het dit vir haar getik en besoekers lees dit graag vir haar voor.

Haar skoondogter, Brenthia Rossouw, woon ook in die aftreeoord.

Related Articles

Back to top button