Local newsNews

Helpende Hand maak ’n verskil

Marianthie van der Walt, streeksleier van Helpende Hand in Limpopo, het op Saterdag 24 Oktober ’n streeksraadvergadering by Trados Lodge net buite Mookgophong gehou.

Volgens Van der Walt was een van die doelstellings vir die byeenkoms die bekendstelling van die nasionale 100-punt herstelplan soos bespreek op nasionale byeenkoms wat van 12-15 Oktober in Pretoria gehou is.

Verteenwoordigers van takke in Phalaborwa, Letsitele, Tzaneen, Polokwane, Mokopane, Mookgophong, Modimolle, Bela-Bela, Northam, Lephalale, Rustenburg, Brits en Hartbeespoort het met entoesiasme geluister na nuwe planne om mense in nood te help.

Die tema vir die dag se bespreking was: “Saam is ons sterker — met hart, in krag, tot hoop” en al 33 verteenwoordigers is ywerig om die planne in hul omgewing in werking te stel.

“Daar is ten spyte van die magdom negatiewe aspekte van die Covid-19-inperking, ook ongelooflike netwerke gevorm en ons het weer die kosbaarheid van gemeenskapskrag besef. Ons wil voortbou op die netwerke en vennootskappe wat gevorm is en verder hande vat om ’n holistiese verskil in gemeenskappe te maak. Saam is ons sterker,” het Van der Walt aan Die Pos gesê.

Sy het lede van Helpende Hand bedank vir hulle onbaatsugtige en voortgesette bydraes in die streek. Limpopo-vrywilligers en Helpende Hand-takke het tydens die inperking van April tot Oktober ’n reuseverskil in mense se lewens gemaak.

Daar is altesame 3 492 gesinne en 171 instansies in dié tyd gehelp. Skenkings van R2,9 miljoen is verdeel tussen 16 uitreikspanne wat dit in die verskillende dorpe gekoördineer en versprei het.

Die tak beoog om op Donderdag 5 November die eerste “Omgee-netwerkbyeenkoms” in Mookgophong te hou.

Belangstellendes wat deel wil wees van Helpende Hand kan vir Joyce Kritzinger bel by tel. 076 900 9989 of Corné Pohl by tel. 083 356 6463 of Marianthie van der Walt by tel. 082 741 7858.

Related Articles

Back to top button