Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die Acker­mans-klere­win­kel in Chris Hanistraat in Bela-Be­la het op Dins­dag 20 Okto­ber deurgeloop onder gewapende rowers. Teen druktyd het die polisie nog geen inligting bekendgemaak nie. Dit is die vierde rooftog in die afgelope twee maande in die sentrale sakegebied van Bela-Bela.

 

Die Warmbad Rotariërklub het op Donderdag 15 Oktober hul nuwe klubpresident vir die komende termyn verkies. Daar is ook twee nuwe klublede by hierdie geleentheid verwelkom. Op die foto is Francois du Plessis (nuwe lid), Tiaan Botes (gekose klubpresident) en Cecilia Groothof (nuwe lid).

 

Warmpatat: Inwoners van Bela-Bela is moedeloos oor die Bela-Bela-verkeersafdeling in Van der Merwestraat se verskonings vir hul gebrek aan dienslewering. Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het die afgelope week in reaksie aan Die Pos bevestig dat daar “probleme ondervind word”. Hy het egter gesê die kantoor is nou wéér oop nadat dit al meer as een keer gesluit moes word omdat personeellede glo positief vir die Covid-19-virus getoets is. Mosito het gesê daar word nou voorkeur gegee aan Bela-Bela-inwoners. Volgens hom het die afdeling geen beheer daaroor dat die stelsel gereeld “van lyn af” is nie, omdat alle stelsels aan die nasionale Enatis-stelsel gekoppel is. Indien dié stelsel nie funksioneel is nie, raak dit alle plaaslike kantore. Op die foto staan rye mense die afgelope week in die bloedige son voor die verkeersafdeling en wag om gehelp te word.

 

Inwoners van Bela-Bela trek al maande lank spreekwoordelik neus op weens ’n ernstige rioolprobleem in en om die dorp. Die afgelope week se reën het die probleem vererger. Die munisipale infrastruktuur in Bospoort (Wyk 4) is veral in ’n haglike toestand. Daar is die afgelope jare in verskeie munisipale verslae aangedui dat dié vervalle rioolaanleg dringende instandhouding benodig. Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het die afgelope week aan Die Pos gesê die rioolaanleg by die feesterrein in Groblerstraat is ook hoog op die prioriteitslys en ’n kontrakteur is reeds ontbied. Op die foto is een van die borde wat die munisipaliteit onlangs langs die R-101-pad opgerig het. Mense word gewaarsku dat daar rou riool vloei en dat dié water nie geskik is vir swem of om te drink nie.

 

Daar was groot opwinding toe twee babas op Sondag 18 Oktober in die Warmbad Rusoord se Tehuis vir Bejaardes gedoop is. Oumagrootjie Sarie Thiart (92) is ’n trotse inwoner van dié tehuis. Die ander oumagrootjie, Hester van Rooyen (83), was ook teenwoordig. Ds. Kokkie Kok, wat ook jare gelede klein Isla Ioannou se ma, Moynene, gekatkiseer en voorgestel het, het die doop waargeneem. Die twee babas, Christiaan Magnus en Isla Ioannou, se ma’s is niggies. Moynene en Andrew Ioannou en Lindi en Johan Magnus is albei op 1 September 2017 getroud en het ná ’n opdraende stryd saam swanger geraak. Die babas verskil net drie weke in ouderdom. Op die foto is die neef en niggie saam met Kok na afloop van die plegtigheid.

 

Dawie en Annie de Wet van Kammaland buite Mookgophong het op Maandag 12 Oktober ’n besondere mylpaal — hul 63ste huweliksherdenking — gevier. Dié afgetrede boer het met ’n vonkel in die oog gesê hy het sy bruid in Namibië ontmoet. Hulle spog met ’n nageslag van 36 wat kinders, kleinkinders en agterkleinkinders insluit.

 

Daar het die afgelope week bykans 50 mm reën op die plaas Andanté, sowat 6 km buite Mookgophong geval. Op die foto is Lize Bredenkamp, plaasbestuurder, by een van die damme water wat in die veld gevorm het nadat ’n nuwe gronddam wat twee weke gelede gestoot is, oorgeloop het. Foto: Herman Steyn

 

Besoekers aan die Bosveld moet weet hulle kry ’n Afrika-ondervinding. Gaste het die afgelope naweek benoud om hulp gevra toe ’n jong luislang in die uitlaatpyp van hul voertuig skuiling gesoek het. Jan Louis Jacobs, opleidingsbestuurder by die Sondela-natuurreservaat, het die slang verwyder en weer in die natuur vrygelaat. Waterbergers kan nou op die uitkyk wees vir lui­slang­e, pof­ad­ders, wip­neus- en spoeg­ko­bras. Bel vir Jacobs by tel. 064 531 2473 om slange te verwyder. Op die fo­to is Ja­cobs met die slang wat hy ge­red het.

 

Dit was die afgelope week snikheet in die Waterberg. Die bruinbeer Naomi het lafenis in ’n koel dammetjie in haar kamp gevind. Sy span ook graag onder ’n koelteboom uit. Naomi (35) en haar dogter Rut (30) het by die Eventieria-wildlewepark in Vaalwater afgetree. “Die twee bere is redelik oud, maar hulle swem nog en eet goed. Albei het reeds hul dik rooibruin winterpelse afgeskud,” het Melody Koekemoer, parkbestuurder, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button