Local newsNews

Bobaas-speurder sterf aan kanker

Nel is beskryf as een van die Waterberg se topspeurders.

Sy plek is leeg.

Familie en kollegas van kapt. Pierre Nel van Modimolle is dit eens dat sy dood die afgelope week ’n groot leemte in hul lewens laat.

 

ADVERTENSIE/ADVERTISEMENT

 

Nel is op Saterdag 17 Oktober oorlede nadat hy in April vanjaar met kanker gediagnoseer is.

AO Ross Rossouw, ’n jarelange kollega, het Nel beskryf as een van die Waterberg se topspeurders.

“Hy het altyd van voor af gelei. Sy ondervinding is onvervangbaar. Hy was altyd beleefd met almal en veral die junior lede het baie respek vir hom gehad. Ons werkure is van so ’n aard dat ’n mens amper meer by die werk as tuis is. Dit veroorsaak dat ’n mens hegte vriendskappe smee. Dit is vir sy kollegas soos om ’n broer te verloor,” het Rossouw gesê.

Nel se polisieloopbaan het in 1985 begin. Hy is ná sy opleiding oorgeplaas na die polisie se onluste-eenheid en daarna na die Rankins- pas-polisiestasie.

Van daar af is hy in 1990 na Pienaarsrivier. Hy was ook in Rooiberg gestasioneer. Hy het in 1995 by die Modimolle-polisie begin werk en in 1998 by die speurtak aangesluit.

Hy was ook deel van die destydse Waterberg-speurtak. Nel was groepshoof oor ekonomiese misdade wat huisbraak en roofsake ingesluit het.

Hy is in 2019 vereer met die toekenning as beste speuroffisier in die Modimolle-kring.

“Hy was tot sy laaste dae baie dankbaar teenoor sy vrou, Sonia, wat hom so mooi in sy siekte ondersteun het,” het Rossouw gesê.

Hy laat sy vrou, Sonia, sy twee seuns, Pierre en Ryno, asook sy suster Sonja Dekker en sy ma Susan Nel agter. Sy begrafnis vind op Vrydag 23 Oktober om 11:00 vanuit die Afrikaanse Protestante Kerk Modimolle plaas.


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button