Local newsNews

Nuwe tehuis vir Sonstraalskool

Die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys in Modimolle se groot droom word binnekort bewaarheid wanneer die Sonstraal Tehuis sy deure in Januarie open.

Dié tehuis, wat in Magasynstraat 8 in Modimolle geleë is, sal huisvesting bied vir ses volwasse mense wat fisiek of verstandelik gestrem is wat permanent op die perseel versorg kan word.

“Ons bouprojek op ons grond langs die Abraham Kriel-kinderhuis gaan steeds voort, maar ons moes dringend begin kyk na ander oplossings vir die skool se uitdagings,” het Hantie van Aardt, hoof van die skool, gesê. “Ons missie is om toegewyde hulp en ondersteuning aan volwasse gestremde inwoners te bied en hulle as ’n familie te versorg. Ons sal weekliks verskeie werkwinkels aanbied soos perdry- en swemaktiwiteite. Daar sal ook ander sosiale aktiwiteite wees. Dagbesoekers sal die werkwinkels kan bywoon,” het sy gesê.

Voornemende inwoners moet semiselfstandig kan funksioneer en sober gewoontes hê. Daar is ’n drie maandelange proeftydperk om die inwoners se aanpasbaarheid te verseker.

“Die skool is dankbaar vir die klein tree wat ons vorentoe kan gee om aan die groot behoefte wat daar in ons dorp en omgewing is, te voldoen,” het Van Aardt gesê.

Dit is ’n baie groot taak om so ’n tehuis in te rig. Inwoners wat wil help, is welkom om bydraes te lewer.

Daar is nog ’n behoefte aan tuinmeubels of -bankies, ’n sitkamerstel, ’n televisie, sitkamergordyne vir twee groot vensters, eetgerei, brood- en groentemesse, raspers, slaaibakke, Pyrex-bakke met deksels, plastiekbakke met deksels, vadoeke en wasvadoekies, breekware soos borde, klein bordjies en poedingbakkies, bekers vir sap met deksels, ’n broodrooster wat verkieslik vier snye of meer kan rooster en ’n versapper. Kruideniersware, veral vir ontbyt en ligte aandetes, is ook welkom.

“Daar is reeds een voornemende inwoner in Modimolle wat geldelike ondersteuning benodig. Ons sal dankbaar wees as iemand kan help.”

Vir meer inligting, bel vir Van Aardt by tel. (014) 717 4331 gedurende skoolure of tel. 083 6120 975.

  • Die Pos-kinderfonds kon — danksy ons lesers se groot, oop harte — ook vandeesweek ’n ruim skenking aan die Sonstraalskool maak. Die fonds word saamgestel uit koe- rantverkoopspunte in die omgewing wat hul weeklikse wins uit koerantverkope aan die kinderfonds skenk. Die Pos-kinderfonds het sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie duisende rande aan liefdadigheidsintansies in die Waterberg geskenk.

Related Articles

Back to top button